Twee verpletterde families van Vredenburg moet nou die stukke van hul lewe optel nadat ’n verskriklike tragedie hul geliefdes by hulle kom steel het.
Die omstandighede wat tot die gewelddadige beëindiging van Millen Adams (48) en Attie (Adam) Maasdorp se lewe gelei het, het oënskynlik begin toe Millen glo aan Attie gesê het sy en hul kleuterseuntjie (5) trek Atlantis toe, aangesien sy ’n werk daar gekry het. Attie was blykbaar nie baie ingenome met Millen se besluit om te verhuis nie.
Die laaste keer wat Millen se familie haar gesien het, was verlede Woensdagaand (3 Augustus) toe sy die huis in Witteklip verlaat het om ’n roudiens te gaan bywoon. Sy het vir haar huisgesin gevra om nie haar foon van die laaier af te haal terwyl sy weg is nie. Millen is by die deur uit en hulle het haar nie weer lewend gesien nie.
Miché Adams (28) het geweet dat iets groot is fout toe haar ma nie daardie aand huis toe kom nie. Sy sê haar ma sou nooit iewers gaan kuier sonder om haar seuntjie, Miché se halfboetie, saam te neem nie.
Die familie het die volgende dag oral in Vredenburg na Millen gaan soek en uitgevind dat sy nooit by die roudiens opgedaag het nie. Nadat hulle alle inligting opgevolg en hulself elke keer in ’n doodloopstraat bevind het, het Miché Vrydagaand na die Vredenburg-polisiekantoor gegaan om haar ma as vermis te gaan aanmeld.
“Maar die polisie het gesê ek moet gaan kyk of sy nie dalk in die hospitaal is nie en die volgende oggend terugkom as sy steeds nie gevind is nie”, het Miché aan Weslander gesê.
Miché het die Saterdagoggend na die polisiekantoor teruggekeer. Sy het aan die polisie gesê sy vermoed haar ma se voormalige lewensmaat [Attie], het iets met haar verdwyning te doen. Sy het geweet haar ma het vroeër die week die nuus aan Attie gebreek dat sy en hul seuntjie Atlantis toe gaan trek en dat hy nie gelukkig was daaroor nie.
Volgens Miché het Attie aan haar gesê “julle moenie bekommerd wees nie, as dit van my afhang sal jou ma nie in Atlantis gaan bly nie.” Sy het nie gedink dis ’n doodsdreigement nie en aanvaar Attie gaan haar ma probeer oortuig om te bly.
Maasdorp het ná Millen se verdwyning aan die familie gesê hy het haar nie gesien nie en weet nie waar sy is nie.
Volgens Miché was Attie en haar ma lankal uitmekaar, maar omdat hulle saam ’n kind het, was hy nog baie deel van hul lewe. Attie het ook glo gereeld by Millen se huis kom eet en sy was altyd besorgd oor sy welstand.
“Ons het opgekyk na hom en het respek vir hom gehad, maar hy kon ’n bietjie moeilik raak wanneer hy gedrink het,” het Miché gesê.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Vredenburg-polisie, is Millen se lyk later die Saterdagoggend in ’n vlak graf langs Attie se huis gevind.
“Die speurders het opgemerk dat daar onlangs in die grond gekrap is, en met nadere ondersoek het hulle Millen se liggaam ontdek,” het sy bevestig.
Miché sê Attie se klere, belangrike dokumente en haar halfboetie se klere is in die huis gevind, waar dit netjies gepak was – so asof hy gereed was om die kind te vat en te vlug.
“Ek het agterna gehoor hy het reeds Maandagaand aan iemand gesê hy gaan my ma doodmaak,” vertel Miché.
Miché sê sy neem nie dié vriend kwalik dat hy hulle nie dadelik van die dreigement kom vertel het nie, want die persoon het werklik nie gedink Attie bedoel wat hy sê nie. Maar sou die vriend betyds die gevaarligte erken en die inligting gedeel het, sou haar ma moontlik nog gelewe het.
Volgens Helfrich het Attie geweet die polisie is op sy spoor en hy het glo by sy suster in Petrus Meyer-straat se huis in Louwville gaan skuil. Hy het glo vir sy suster gesê hy het iets verkeerds gedoen.
Helfrich sê Attie se lyk is later ontdek waar hy homself in dié huis gehang het.
“My ma het haar foute gehad, maar sy was regtig ’n lieflike vrou,” het Miché gesê.
Miché het haar verder beskryf as ’n liefdevolle ma en ’n baie verantwoordelike mens met nugter gewoontes.
Millen se seuntjie vra heeltyd na haar en sy pa en Miché sê hulle het vir hom gesê sy ma is by Jesus.
“Maar hy verstaan nie regtig nie. Hy wil weet waar sy mammie is. Ons weet nie werklik hoe om dit te hanteer en aan hom te verduidelik waar sy ma en pa is nie,” vertel sy.
Die twee families het volgens Miché in hul pyn na mekaar uitgereik en sy sê hulle het dit duidelik aan Attie se gesin gemaak dat hulle nie enige kwade gevoelens het nie.
“Ons weet hulle is ook stukkend. Wat tussen my ma en hom gebeur het, was tussen hulle. Hulle het ook iemand wat hulle lief het, verloor.”
Chané Maasdorp, Attie se dogter, het Woensdag aan Weslander gesê sy en haar familie het baie seer en verwerk nog die tragedie.
Sy het ook gesê sy verkies om nie in hierdie stadium iets oor haar pa te sê nie, al wil sy graag, want “die mense skiet klaar pyle na ons toe”, het sy verduidelik. Sy sê die aantygings breek hul stukkende harte nog verder.
Dit is Miché se wens dat haar ma se hartseer storie iemand anders sal help om betyds die gevaarligte te sien, sodat ’n lewe gered kan word voordat dit te laat is. Helfrich het bevestig dat albei sterfgevalle tans deur die polisie ondersoek word.




