Dié 1313 Mac’s Familia-motorfietsklublede van Saldanha en Velddrif het Maandag 19 Februarie van Lambertsbaai tot in Langebaan saam met dr. André Hattingh gery. Hy staan in die middel met die waterbottel. Voor van links is Natasha Bekker, Mike Baxter, Merandi Millard, Annelize en Willie Geel (deel van die Ride-for-a-child-span) en Wilma Claasen

Die bekende motorfietsryende dokter van Mpumalanga, wat jaarliks duisende kilometers aflê om geld vir siek kinders in te samel, het pas weer sy Weskusdraai gemaak.

Motorfietsryers van oor die Weskus heen het saam met dr. André Hattingh op sy 17de Harley Davidson van Lambertsbaai tot in Yzerfontein gery. Hulle het by Elandsbaai, Dwarskersbos en Langebaan aangedoen.

Hattingh ry al 40 jaar lank motorfiets. Vanjaar se rit van 7 000 km tot in Jeffreysbaai sal sy vyfde wees om geld in te samel vir Pediatric Care Africa, ’n weldaadsorganisasie sonder winsbejag, wat betaal vir mediese ingrype soos operasies vir kinders van behoeftige ouers.

Hattingh samel geld in met sy “Ride-for-a-child”-projek deur duisende kilometers per motorfiets en ook op ’n keer op ’n trekker (die “Trac-tor”-projek) af te lê.

Dié Skots-Afrikaanse Hattingh het in Koster, Noordwes, grootgeword en het ná skool as dokter en chirurg in die VSA gekwalifiseer. Hy het ook ’n doktorsgraad in neurowetenskap en het vanweë sy navorsing die jaar 1999 in Taiwan deurgebring. Sy avontuurlustigheid lei hom ook na Zambië, Malawi en die Demokratiese Republiek van die Kongo, waar hy jare lank praktiseer en hospitale en klinieke bou.

Ná sy aftrede en terugkeer na Suid-Afrika het hy Pediatric Care Africa in 2017 van stapel gestuur. Die organisasie het ook ’n Nederlandse afdeling.

Hattingh doen ’n beroep op motorfietsryers landwyd om hom te help om die wêreldrekord vir die meeste motorfietse in ’n enkele groep in ’n verspreide formasie, te help opstel.

Daarvoor moet minstens 4 500 motorfietse die rit hierdie Saterdag (24 Februarie) meemaak.

Twee groepe – een uit ’n westelike rigting (Weskus, Kaapstad en George) en een uit ’n oostelike rigting – ontmoet mekaar om 11:30 voor die Caltex Mentors Plaza naby Jeffreysbaai op die N2 na George. Wanneer almal in formasie is, sal hulle gelyk wegtrek en met die rekordpoging begin.

Die spoed sal heelpad vir veiligheid sowat 60-79 km/h wees om voorsiening te maak vir die tel van die motorfietse.

Die rekordpoging sal formeel by RecordSetters in die VSA ingedien word, en op verskeie TV-stasies, ook in Australië, uitgesaai word.. Om meer uit te vind of deel te neem, hetsy as ryer of as beampte, skakel 076 229 5663.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article