Só lyk die plakkers wat inwoners kan koop om die Saldanha-buurtwag finansieel te ondersteun.


Inwoners het werklik soveel maniere om by hul dorp betrokke te raak.

Neem vandag ’n besluit om jou deel vir jou dorp te doen.

Elke klein bydrae maak ’n groot verskil om van Saldanha ’n skoner en veiliger plek te maak.

Vrywillige superhelde sonder maskers, mantels of betaling sien toe dat Saldanha ’n veiliger plek vir alle inwoners is.

Hierdie mense is die toegewyde lede van die buurtwagte in die Saldanha-omgewing. Die buurtwagte sluit onder andere die Saldanha-buurtwag, Tabakbaai-buurtwag en White City-buurtwag in.

André Truter, burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) en self ook ’n ywerige lid van die Saldanha-buurtwag, sê misdaad in Saldanha het die afgelope paar jaar geweldig gedaal vandat dié buurtwag aktief is en baie goeie verhoudinge en wisselwerking met die polisie handhaaf.

Die Saldanha-buurtwag, wat die mees gevestigte buurtwag in Saldanha is, help ook die ander buurtwagte in die dorp en die omgewing om op hul voete te kom en misdaad in hul onderskeie woonbuurte doeltreffend te bekamp en te voorkom. Die Tabakbaai-buurtwag is met ID-kaarte gehelp en patrolliefietse is aan St. Helenabaai se buurtwag geskenk. Die Saldanha-buurtwag het onlangs ook flitse aan die Tabakbaai- en White City-buurtwagte geskenk.

AO Yolanda Kotze, ’n woordvoerder van die Saldanha-polisie, het bevestig roof en gewapende roof – veral by sake-ondernemings – is een van die dorp se grootste uitdagings.

Die polisie, die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, munisipale wetstoepassing, die verkeersdiens, Saldanha se onderskeie buurtwagte en plaaslike sakelui vat voortdurend mekaar se hande om misdaad in die dorp hok te slaan.

Die Saldanha-buurtwag benodig egter meer vrywilligers om die instansie se doeltreffendheid en volgehoue sukses voort te sit.

Die buurtwag het tans 112 aktiewe lede. Diegene wat betrokke wil raak, moet 21 jaar of ouer wees en hoef slegs een skof van twee ure lank elke negende dag te werk. Dis ’n klein bydrae met die potensiaal om ’n reuseverskil te maak.

Die buurtwag bied ook die opsie om vrywilligerwerk in die beheerkamer te doen om kringtelevisiekameras te monitor. Mense wat egter nie vrywilligerwerk kan doen nie, maar steeds die buurtwag wil ondersteun, is welkom om ’n finansiële skenking te doen.

Die geld word vir noodsaaklike weerkaatsklere en bykomstighede, asook brandstof vir patrollies gebruik.

Die publiek kan ook ’n groot buurtwagplakker vir hul groen munisipale wieletjiesdromme teen R100, of ’n buurtwag-vensterbord vir R80, koop. Die dromplakker bemark die buurtwag, maar die boodskap op die plakker ontmoedig asblikkrappers om nie in inwoners se dromme te krap nie. Die buurtwag wil inwoners aanmoedig om veral die dromplakkers te koop aangesien hierdie groen asblikke soms verkeerde mense ’n verskoning gee om naby jou huis te kom en jou eiendom en bedrywighede dop te hou. Die drom kan ook as ’n leer gebruik word om oor jou muur te klim, of kan ’n wegkruipplek wees vir iemand om jou aan te val.

’n Deel van die geld wat uit die verkoop van die plakkers ingesamel word, word vir die bedryfskoste van die buurtwag gebruik. Die Saldanha-buurtwag is besonder opgewonde oor sy vennootskap met Team Clean Saldanha, wat daarna streef om van Saldanha ’n skoner en ’n mooier dorp te maak. Team Clean Saldanha glo “waar dit vuil is, is daar misdaad”. Raak een keer ’n maand deel van die skoonmaakaksie. Die buurtwag bedank ook graag almal wat reeds bydra en betrokke is.

. Skoonmaakveldtogte: Sheena by 076 083 3688.

. Buurtwag: Stephan by 083 448 0980.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article