Velddrif het Vredenburg met goeie dissipline geklop en die deur wawyd oopgegooi vir die tweede plek. Foto: Yaël Malgas


Velddrif het Saterdag op sy tuisveld vyf waardevolle punte verdien in dié span se oorwinning van 31-17 oor Vredenburg.

Die moet-wen-wedstryd vir albei spanne het ook gewys dat dissipline ’n wedstryd vir ’n span kan wen.

Vredenburg se Burg Boys het die wedstryd met gebieds­voordeel en balbesit oorheers, maar kon egter nie voordeel daaruit trek nie. Die tuisspan se kalmte en wil om te wen het die beste uit die spelers gehaal. Velddrif het met skitterende verdediging die grondslag gelê en met omgekeerde besit kon die tuisspan sy stempel afdruk.

Die oorwinning het ook die span van Velddrif in die vierde plek op die punteleer gelaat en die deur wawyd oopgegooi vir die tweede plek en vir ’n plek in die top-12-uitspele later die seisoen. Vredenburg het met die nederlaag afgeskuif na die tweede laaste plek op die punteleer.

Met 12 punte wat die tweede geplaaste Paternoster en die sewende geplaaste Langebaan skei, kan daar nog baie vuurwerke in die oorblywende wedstryde wees. Die verdedigende kampioen, Saldanha, het die span van Koringberg afgeransel om sy voorsprong te vergroot.

Saldanha, wat tans nege punte voor Paternoster is, het egter ’n wedstryd meer gespeel.

Paternoster het ook min moeite in sy wedstryd teen Piketberg ondervind en Mamre se nederlaag teen Hopefield het kaarte effens deurmekaar gekrap. St. Helenabaai se opmars is ook nou in die pylvak en die span uit die Agterbaai het Langebaan in dié se agterplaas getroef. Die Albatrosse sal die naweek Velddrif in die Agterbaai pak in wat ’n baie opwindende stryd gaan wees.

Mamre kry ook die naweek kans om weer momentum te kry as die groen truie Koringberg in Mamre pak. Vredenburg kan egter uit die voorlaaste plek kaarte omkrap vir baie spanne.

. Volledige uitslae Weskus: Koringberg 10-74 Saldanha, Paternoster 35-19 Piketberg, Velddrif 31-17 Vredenburg, Langebaan 17-28 St. Helena, en Hopefield 14-12 Mamre.

Swartland: Never Despairs 27-29 Darling, Porterville 12-22 Wesbank, Saron 27-25 Moorreesburg, Villagers Wittewater 20-21 Riebeeck United en Good Hopes 33-23 Abbotsdale.

. Die naweek se bepalings: Mamre t. Koringberg, Vredenburg t. Paternoster, Saldanha t. Langebaan, St. Helena t. Velddrif en Piketberg t. Young Hearts. Hopefield los.

Swartland: Moorreesburg t. Abbotsdale, Darling t. Good Hopes, Porterville t. Villagers Wittewater, Riebeeck United t. Saron en Wesbank t. Never Despairs.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article