Groot Kampioenkoei, Locheim Boer­dery. Foto: Jan van Dyk

Die immergewilde Swartlandskou word vir die 91ste keer van Woensdag tot Saterdag, 3-6 September, op die Moorreesburg-skouterrein in Moorreesburg aangebied.

Die verskeie kleinvee-kampioenskappe sal vanjaar weer besoekers bekoor, maar die groot trekpleister op Saterdag 6 September is die skaapskeerkampioenskap.

Kom luister na Tinus du Plessis, Suid-Afrika se eie skaapskeerkoning en houer van nasionale én internasionale rekords.

Van Woensdag 3 tot Saterdag 6 September word daar met agt top-vleisbeesrasse geskou vir die gesogte titels van Senior Kampioenbul, Senior Kampioenkoei en Opperste Ras-kampioen. Die Romagnola- ras sal vir die eerste keer by die Swartland- skou sy opwagting maak. Ander beesrasse sluit in die Herefords, Simmentalers, Rooi Angus, Swart Angus, Santa Gertrudis, Charolais en Sussex.

By die Jeugskou op Woensdag 3 September neem meer as 250 skoumanne deel aan 16 dissiplines in die Wes-Kaap Kwa­lifiserende Streekskou. Nuwe items soos kulinêre kuns, fotografie en suiwelberei-

ding voeg vars opwinding by.

Swartlandskou het onlangs by die Agri-Expo-kongres die toekenning ontvang vir Beste Jeugskou-aanbieder, ‘n prestasie om op trots te wees.

Perdeliefhebbers kan uitsien na die Vlaamperd SA-kampioenskap en die SA Saalperd-kampioenskap, terwyl die indrukwekkende agtspanwa-perde op Saterdag 6 September weer ‘n vertoning lewer wat jaarliks toeskouers van oor die land heen lok en bekoor.

Die Vrouedag op Woensdag 3 September is ‘n jaarlikse hoogtepunt met meer as 500 vroue wat ‘n dag van inspirasie, mode, geselskap en heerlike kos geniet. Boys R Back gaan ons terugneem na die goue era van “boy bands” in ‘n opwindende verto­ning terwyl Lizz Meiring ons gaan vermaak met haar Die Real Housewife-solovertoning.

Kinders sal gaande wees oor die nuwe kinderspeelplek wat vol prettige aktiwi­teite en vermaak soos bungee-trampoliens, paintball, springkastele, trapkarre en vele meer is.

Van Donderdagaand 4 September sorg gewilde kunstenaars vir topklas musiekvermaak.

Musikante sluit in Wynand en Chereé, DJ Louis van Lill, New Horizon, Brendan Peyper en DJ Wico, Step by Step Dans­skool, MG Pro Voices, Chris Rain, Ruan Theron, Irene-Louise van Wyk, Tamlyn Wessels, ONS, Chris Steyn, Danny Smoke en DJ Stevie.

Die gewilde landbou-oggend Vrydag 5 September dra vanjaar die tema: “Boerdery se toekoms – Ons skei die koring van die kaf.” Sprekers soos Theo Vorster, prof. Johan Fourie, Tobias Doyer en JP Landman gaan besoekers inspireer en waardevolle insigte oor die toekoms van landbou deel.

Koop jou kaartjies betyds aanlyn via TIXSA by tickets.tixsa.co.za/event/swartlandskou-moorreesburg of besoek die webtuiste by swartlandskou.co.za

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article