Het jy nie daar ’n lyn vir ’n man vir ’n paar snoeke, hotties en geelstert nie? Ek hoor en sien al in my geestesoog hoe hierdie vraag al meer ’n brandende een gaan word hier kort voor Paasnaweek.

En nee, dit gaan nie daar ophou nie. Die tonge gaan weer los wees oor die djirre se visse wat verniet is, maar hier moet ons hemelhoë pryse vir ’n snoek betaal. Maak jou reg, Pappa Smous; jy gaan jou storie kry. Jy weet mos hoe na aan die hart ons volk se lus vir ingelegde vis en Paasbolletjies oor ’n Paasnaweek is. Dis ’n kultuur wat met respek behandel moet word – daai klompie dae voor Paasnaweek as die uie ingelê word, die vis afgebak word en daai geheime resep van oorle’ ouma Betjie ingespan moet word om nog ’n jaar die beste ingelegde kerrievis op te dis.

Die vis moet darem ook die regte prys wees om te sorg dat daai kampioen- smaak van ’n ingelegde saak by die familie en vriende se monde uitkom.

En glo my, ’n antie wil nie haar naam of titel laat skade aandoen nie. As sy vir jare die beste ingelegde kerrievis oor ’n Paasnaweek opgedis het, dan kan jy maar weet dit gaan ’n gestoei kos om daai titel van haar af weg te neem. En al moet manlief ook uit die Kaap uit ry om in Paternoster ’n winskopie op die snoek en geelstert te kry, dan sal hy maar moet, want die ingelegde-kerrievis-koningin se naam en eer is op die spel.

En moenie eens daaraan dink om suinig te wees met die hoeveelheid vis vir die geleentheid nie, want vir die hele Paaslangweek kry die koningin van ingelegde vis haar broodnodige blaaskansie weg van die kospotte af, want vir daai tydjie gaan almal ingelegde kerrievis eet totdat dit by jou ore gaan uitkom! Jy wat die kultuur verstaan sal weet. Jou lewe word vir die duur van die Paaslangnaweek oorgeneem deur vis, uie en Paasbolletjies. En trek net neus op daarvoor, Sussie, dan sal jy maar self moet plan maak vir daai goed wat jy op jou menu wil hê. En kom daai Paasmaandag, dan gaan almal daai laaste uie- sous met hier en daar nog ’n nagedagtenis van die vis wat was, geniet.

Die koningin van die ingelegde visgoedjies gaan seker maak jy respekteer die kultuur, want dis eers van die Dinsdag ná Paasnaweek dat sy dalk sal besluit of sy lus het vir kosmaak of nie.

Eish, laat my sommer dink aan ’n klompie jare gelede toe ek my oorsee bevind het. Dit was my eerste Paasnaweek weg van die huis af en boonop in ’n land duisende kilometers van my eie af. Ek het daai Paasfees-gees gemis. Ek wou ingelegde vis met daai heerlike sous daarby hê. Niks of niemand kon daai lus en verlange in my stol of stop nie. My kopseer doer in die ver land was die vraag waar ek ’n snoek, hottie of ’n geelstert in die hande sal kry. Ek het my soektog met vasberadenheid begin, maar nêrens het ek ’n vis gesien wat selfs naastenby na ’n snoek lyk nie. By daai supermark sien ek toe so ’n lekker groterige vis wat amper soos ’n snoek lyk en net daar besluit ek toe dat die uwe gaan probeer om my verlange na huis en Paasfees te stil.

Het ek al in my lewe dit gewaag om my eie ingelegde vis te maak? Nee. Wel, my oplossing was ’n oproep Suid-Afrika toe om daai resep in die hande te kry, en voor jy kon sê “snoeksmous van Langebaan”, toe staan ek voor die stoof, resep in die hand en vadoek oor die skouer om my hartskos vir ’n Paasnaweek voor te berei. Nodeloos om te sê – die nuus het vinnig onder my vriende versprei en almal was daai naweek by my woonstel om ook ’n stukkie van hul verlange huis toe met my ingelegde vis en Paasbolletjies te kom troos.

Terug op eie bodem wonder ek hoe daai soektog na Paasnaweekvis afgeloop het. Daarby wonder ek hoe jou onderhandelinge met die vissmous afgeloop het, want o viskuite, deesdae wil dit voorkom asof daai snoek met sy “kwalifikasiepapiere” en al verkoop moet word. Ek sien al daai rits spogdinge op daai snoek se papiere – al die pad van Lambertsbaai af geswem, perfekte gewig, viskuite ingesluit, was twee jaar op visskool, met lof geslaag. My prys – R750. My kop is die perfekte grootte vir jou Paasmaandag se snoekkop-kerrie.

Ja-nee, waar was die dae toe die mense die boodskap per mond gestuur het dat die snoek weer dik loop in St Helenabaai en dat jy dat dit vir ’n appel en ’n ei sommer op die jettie kon koop – gevlek en gesout. Ons praat nie hier van daai snoeke wat met die rit tussen die smous en die huis sommer vanself pap word nie.

Wel, ek hoop dat jy hierdie Paasnaweek nog steeds die voorreg sal hê om ’n stukkie van die koningin (wie sy ook al vir jou is) van ingelegde vis se lekkerte kan geniet. Geseënde Paasnaweek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article