“As die bus stop, moet julle klaar gegroet wees en net handbagasie kry en inklim, sodat julle tussen die wiele kan sitplek kry,” maan allerliefste.

Google het glo raad oor waar om te sit vir die gemaklikste rit, vriende, doemprofete, gelukkige busryers asook ongelukkige busryers. Padkos is met omsigtigheid ingepak, onnodige maagbewegings is beperk tot voor breekpunt, en vloeistof vir hidrasie en persoonlikheid (’n mens verloor dit as jy dors is) is ingepak. Elkeen op sy plek, pille dáár, dit dek alle siektes bekend en onbekend, handeroom hiér, sanitizer in dié hoek, en maskers, nodig of onnodig, kry ook ’n lêplek. Klere, warm en koud, word oor die arm gedra – voorsiening word vir elke gebeurlikheid gemaak. Selfs ’n breiwerkie word ingepak en selfone word gelaai en weer gelaai; ’n mens moet dubbeld seker maak.

Gedagtes – party onrealisties vergesog en ’n sterk moontlikheid – kan, sonder vrees vir weerstand, voorspel word in hierdie land van ons. Die noodlot was ons egter een voor, want ons het nooit dááraan gedink nie!

“Hier kom die bus!” roep allerliefste. Handbagasie word gegryp, ons omarm mekaar, en in ’n paar sekondes huil ons ons liggame leeg van enige vloeistof. Beloftes van weer kom is die enigste yl troos. Die bus is vroeg en ons is dankbaar vir openbare vervoer wat “werk”.

Besadig kom Piet en Anina teruggestap – dis nie hul bus nie. Ons kyk mekaar aan en raak dors ná al die verlore vloeistof wat weer hervul moet word. “Hier kom julle bus!” roep allerliefste. Vir baiekeer sal ons hom so hoor roep en dan kom Piet en Anina maar net weer teruggestap. Ons raak ook naderhand slim en arrogant en gaan hoor eers by die kondukteur waarheen sy bus gaan voor ons vreeslik begin groet. “Ek begin nou gewoond raak hieraan. Ek huil al minder,” lag Anina toe sy, soos ons dink, vir laas groet. Joan Hambidge praat nie verniet oor “die buigsaamheid van verdriet” nie.

Die bus is nou al ’n uur en ’n half laat. Bus 20 gee hoop. “Die bus gaan Oos-Londen toe,” skree my allerliefste verlig en ons groet besadig, versigtig om te vertrou. Die noodlot het ’n sin vir humor, ontdek ek toe ongevraag.

Ja, die bus gaan Oos-Londen toe, maar hul name is nie op die lys nie. Die verwerking van hierdie inligting neem ’n tydjie. Ons vra die lys; miskien is hul van verkeerd gespel of iets, enigiets, net om ’n bus te kry.

Intussen staan daar ’n bus ’n entjie daarvandaan al ’n geruime tydjie, maar ons skakel dit uit as ’n Oos-Londen-bus, vir die eenvoudige rede dat die busse nie so lank staan voordat hulle ry nie. My allerliefste met sy seldsame praktiese insig besluit toe maar, ná die teleurstellende nuus dat hul name wel nie op die lys is nie, om maar tog die kondukteur te gaan vra waarheen hy gaan. En wragtag! Hy gaan Oos-Londen toe, maar wag vir twee passasiers. Ons gryp die lys ongeduldig, kry hul name – met hul van reg gespel – en skielik is ware afskeid op ons lippe. Ons groet dié keer sonder ’n enkele traan en geen huilkonsert. Verlep staar ons die bus agterna. “Het jy gesien hulle sit op die wiele?” vra allerliefste, blykbaar die slegste plek op die bus.

Ons wag ook maar so vir die bus van 2023. Met uiterste nougesetheid en onoortreflike toewyding beplan ons vir die jaar, begroot herhaaldelik en met groot moeite om nie iets uit te laat nie, vir die onvoorsiene met die skat van ervaring van die vorige jaar, maal, plus, deel ons onverpoosd voort. Minus hang soos ’n dreigende swaard oor die som.

Die Organisator se bus se lys is barmhartig, vergewensgesind, liefdevol, met wysheid en deernis opgestel; Sy oë gesluit toe Hy die lys opstel, want Hy ken jou. Kostes is reeds betaal, jare gelede al, en die beste sitplek op dié bus is enige sitplek! Jy moet net self op die bus kom. Blykbaar is die veeleisendste gedeelte om jou onbespreekte sitplek, alhoewel gereserveer slegs vir jou, te kry. Jy sal nie medikasie nodig hê nie, jou trane sal vreugdetrane wees en jou van sal reg gespel wees. Die uitdaging lê daarin om die regte bus te kry en onderskeid te maak tussen al die onopregte en onderduimse swendelaars wat met behendige manipulasie van jou menswees verwoesting saai. Dit laat jou verward en verbysterd agter. Oppervlakkige boodskapdraers wat maklik weens hul sjarmantheid vertrou kan word, kan jou jou sitplek op die bus kos.

Mense wat saam met jou op hierdie bus reis, sal jou die visarend in die boom wys, sonsopkoms op die berg waardeer omdat dit die beloftes van die dag gaan volbring, en saans sal die sterrebeeld jou televisie wees terwyl jy vreedsaam na Opperman se liefdesgedigte luister.

’n Jasmyn plant in jou tuin in 2023 wat haar parfuum van hoop oor alles en almal giet, gratis en sonder ophou, is dalk ’n gegewe. ’n Herinnering van geur wat sê: “Alles sal oukei wees.”



,


You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article