Lupus-vegters en hul ondersteuners het Saterdag aan die Weskus-Lupus Warriors se bewusmakingsgeleentheid deelgeneem om nuwe insig rakende dié gesondheidstoestand te kry.
Mei is lupus-bewusmakingsmaand.
Una van Rhyn, stigter van die Andrea’s Gift-stigting, was ’n gasspreker by die geleentheid by Juffroushoogte. Van Rhyn het Andrea’s Gift gestig nadat haar 30-jarige dogter drie maande ná haar diagnose aan lupus dood is.
“Ons het eers van lupus gehoor nadat dit by haar gediagnoseer is. In haar laaste twee maande, toe sy op dialise was en nie meer as reisagent kon werk nie, het haar sielkundige voorgestel sy kry ’n nuwe projek of iets om haar besig te hou. Sy het toe gedink om pakkies vir lupus-pasiënte in staatshospitale te maak, maar aanvanklik het ek nie veel daarvan gedink nie,” het sy vertel.
Van Rhyn sê sy het later met haar dogter se idee begin. Deesdae werk sy ook om bewusmaking oor lupus te versprei en ondersteuning aan vegters en gesinne te bied.
Saterdag het sy inligting gedeel oor geestesgesondheid wat met kroniese siektetoestande gepaard gaan. Van Rhyn verduidelik depressie, angstigheid en stres gaan gereeld met siektetoestande gepaard. “Mense met kroniese siektes het ’n hoër risiko om aan depressie te ly. Niemand is ooit werklik gereed vir ’n diagnose nie – dit is altyd ’n skok; veral in die geval van lupus, wanneer die dokter verduidelik dokters kan niks vir jou doen nie,” sê sy.
Sy het pasiënte sowel as hul familie en vriende genooi om ondersteuning te kry. Benewens om by ondersteuningsgroepe aan te sluit, is dit belangrik vir lupus-vegters om “lewe buite lupus” te kry.
Die Saldanhabaaier Brigitte Makan, lid van die Weskus-warriors, wat deel van die organiseringspan was, nooi enige plaaslike lupus-vegters om by die groep aan te sluit. Bel Brigitte by 072 242 0758.




