Die saak teen ’n offisier van die Suid-Afrikaanse vloot wat daarvan beskuldig word dat hy ’n vrou in Saldanha se hoofstraat in 2022 doodgery het, is einde Februarie weer op die hofrol geplaas weens die ingryping van AfriForum se private vervolgingseenheid.
Keamogetswe Khunofu (27) is aangekla van strafbare manslag nadat Michelle de Clerck op 9 November 2021 voor die OK Minimark doodgery is.
Volgens Barry Bateman, ’n woordvoerder van die AfriForum- private vervolgingseenheid, is die saak twintig maande gelede van die hofrol geskrap weens “die polisie se versuim om die ondersoek af te handel”.
“Die ingryping van en voortdurende druk van AfriForum se private vervolgingseenheid op die polisie bring De Clerck se bedroefde familie nader aan geregtigheid. Die ingryping het ook daartoe gelei dat tugstappe teen twee polisiebeamptes geneem is vir hul optrede in die saak.”
De Clerck is in 2021 deur ’n motor, wat deur Khunofu bestuur is, omgery toe sy die straat oorgesteek het. Getuies beweer Khunofu het roekeloos bestuur en was dronk ten tyde van die ongeluk. Ooggetuies beweer ook Khunofu het teen ’n ander motor in die besige straat resies gejaag. Khunofu was destyds ’n student aan die Universiteit Stellenbosch se krygskunde-fakulteit by die SAS Saldanha-vlootbasis. Hy het ’n maand later gegradueer.
De Clerck se ma, Elmarie, het AfriForum se private vervolgingseenheid in Junie 2022 genader nadat die saak van die rol geskrap is. Sy en haar man, André, is bekendes in perdekringe in die Weskus en Wes-Kaap.
De Clerck sê hulle is vir maande aan ’n lyntjie gehou en van die een polisieman na die ander gestuur sonder dat enigeen hulle behoorlike antwoorde gegee het.
Bateman het in ’n mediaverklaring daarna verwys dat die saak talle kere uitgestel is omdat belangrike aspekte van die ondersoek, soos bloedalkoholuitslae en forensiese verslae, nie voltooi en by die dossier gevoeg is nie.
Die vervolgingseenheid het aanvanklik hulp van die speurtak gekry, maar hul e-poskorrespondensie is later bloot geïgnoreer.
Die AfriForum-vervolgingseenheid het in Maart verlede jaar ’n diensklag teen die ondersoekbeampte en sy takbevelvoerder ingedien, en die polisie het aan die vervolgingseenheid bevestig tugstappe is teen die ondersoekbeampte geneem vir swak ondersoekwerk, asook teen sy direkte hoof vir sy optrede teenoor die eenheid.
Bateman meen die polisie se mislukkings het die De Clerck-gesin skade berokken.
“Daar moet gevolge wees vir polisiebeamptes wat afstand doen van hul grondwetlike plig om misdaad te ondersoek en die belange van die samelewing te dien – veral die slagoffers van misdaad. Sonder die ingryping van die private vervolgingseenheid sou hierdie ondersoek nooit afgehandel gewees het nie en sou ’n bedroefde familie nie die geleentheid gehad het om die afsluiting te vind wat geregtigheid bied nie. Die eenheid sal voortgaan om die saak te monitor,” sê hy.
De Clerck het haar dankbaarheid teenoor die AfriForum-eenheid uitgespreek. “Ons is só, só dankbaar dat die saak in die hof voortgaan.”
Die Weskus-polisie wou by navraag geen kommentaar oor die aangeleentheid lewer nie.
Die saak is tot 15 April uitgestel wanneer Khunofu na verwagting sal pleit.





