Familie en vriende van Alex en Zoë Arends (22) het die oggend ná hul dood kranse by die padteken kom lê. Die plek waar Michelle de Clerck doodgery is, is in die agtergrond.Foto: Alida Buckle


Drie jaar uitmekaar sit bedroefde familielede en vriende blomme en kranse op twee pale in Hoofstraat, Saldanha, net ’n entjie uit mekaar.

Die familie van ’n vrou wat op 9 November 2021 in Saldanha se Hoofstraat doodgery is, was verpletter toe hulle vanjaar hoor dat tweelingsussies op dieselfde datum, ook in Hoofstraat, óók weens ’n beweerde jaagtog dood is.

André en Elmarie de Clerck, bekendes in perdekringe in die Weskus en Wes-Kaap, se dogter Michelle de Clerck (37) is in 2021 voor die OK Minimark doodgery. Een van twee motors wat na bewering in ’n jaagtog deur die straat betrokke was, het haar getref en vir ’n paar meter saamgesleep omdat die bestuurder nie stilgehou het nie.

Die plek waar die motor uiteindelik tot stilstand gekom het, is nie ver van waar die tweeling Alex en Zoë Arends op Saterdag 9 November vanjaar verongeluk het nie. Omstanders het ná die ongeluk beweer dat daar ’n jaagtog met ’n ander motor was.

Drie ander insittendes, Gregan Saville, Tamryn Jae van Wyk en David Damon, is in die ongeluk beseer. Saville en Van Wyk sterk steeds in Kaapse hospitale aan.

Die Saldanha-polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Tot die De Clercks se uiterste frustrasie sloer die hofsaak oor Michelle se dood al drie jaar en gaan dit moontlik volgende jaar in Januarie van heel voor af moet begin indien die landdros wat die saak op die oomblik behartig, dalk ’n ander pos aanvaar.

Keamogetswe Khunofu (27), ’n offisier van die Suid-Afrikaanse Vloot, word daarvan beskuldig dat hy die motor bestuur het wat Michelle omgery het toe sy die straat oorgesteek het.

Khunofu was destyds ’n student aan die Universiteit Stellenbosch se krygskunde-fakulteit by die SAS Saldanha-vlootbasis en hy is toegelaat om ’n maand later te gradueer.

Om van die tweeling se ongeluk op dieselfde dag te hoor, was vir die De Clercks ’n groot skok. “Dit was vir ons ’n baie moeilike tyd. Dit is amper op dieselfde plek as waar Michelle doodgery is en dit was ook weer ’n jaagtog.”

Die saak is aanvanklik van die hofrol geskrap weens “die polisie se versuim om die ondersoek af te handel”, sê Barry Bateman, ’n woordvoerder van die AfriForum- private ­vervolgingseenheid.

AfriForum se ingryping het ook daartoe gelei dat tugstappe teen twee polisiebeamptes gedoen is vir hul optrede in die saak. Die De Clercks is vir maande ná die ongeluk aan ’n lyntjie gehou en van die een polisieman na die ander gestuur sonder dat enigeen hulle behoorlike antwoorde gegee het oor byvoorbeeld die bloedalkoholuitslae en forensiese verslae wat nie voltooi en by die dossier gevoeg is nie.

Die De Clercks is egter steeds vol moed dat geregtigheid op die ou einde sal seëvier, al is die uitgerekte proses erg frustrerend.

“Ons wil nie meer die dag waarop Michelle dood is, herdenk nie. Ons wil nou eerder haar verjaarsdag op 26 Januarie vier.”

Die familie is ook besig om haar graf in Paternoster met die hulp van Anker Meesterbouers mooi te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article