“Ek kan nie veel onthou nie, maar alles het in ‘n oogwink gebeur,” vertel Jaco Thiart, ‘n bekende haarkapper in Saldanha.
Thiart en sy salon-assistent, Fillie Kearns, was onder die dertien mense wat op Dinsdag 13 Januarie in ‘n motorongeluk in Saldanhaweg, naby die Vredenburg- provinsiale hospitaal beseer is. Albei woon op Vredenburg.
Die taxi waarin die passasiers vervoer is, het ‘n lamppaal by die T-aansluiting met Voortrekkerstraat getref. Die vermoede is dat die bestuurder van ‘n motor én die taxibestuurder die oranje verkeerslig verontagsaam het.
Volgens Kearns en Thiart is hulle dankbaar dat hulle nog leef.
“Dinge kon soveel anders gewees het. Ek het regtig gevoel hier gaan my lewe,” vertel Kearns.
“Mense het vir die taxibestuurder gesê hy moet stadiger ry, maar hy het hom nie aan ons gesteur nie. Al was daar nie ‘n ander voertuig betrokke nie, dink ek ons sou steeds in ‘n ongeluk gewees het.”
Kearns het op die sitplek agter die voorste passasier gesit toe die ongeluk gebeur. Sy het verskeie beserings opgedoen en verduur steeds pyn, maar sterk by die huis aan.
Thiart het ook beserings aan sy rug, ribbe en sleutelbeen opgedoen. “Ek het baie pyn gehad en dit is steeds seer, maar dit gaan darem beter. Die hospitaal het X-strale van my rug geneem en dankie tog daar is nie rede vir ‘n operasie nie, ek moet dit net rustig neem.”
As eienaar van die haarsalon in Saldanha, moes Thiart sy deure sluit terwyl hy herstel. Hy is egter dankbaar vir die maatreëls wat bestaan terwyl hy nie kan werk nie.
“Ek kan nie veel van die ongeluk onthou nie; alles het so vinnig gebeur, maar ten minste leef ons almal,” het hy gesê.








