Hiermee wil ons graag ons opregte dank uitspreek aan beamptes van die dagskofspan by die Doringbaai-polisiekantoor op Saterdag 1 Februarie.
Hulle het ons na die ingang van ’n beter en veiliger grondpad uit Doringbaai na Lambertsbaai begelei nadat ons daar gaan aanklop het vir rigtingaanwysings.
Dit was nadat ons vroeër die oggend met Google se aanwysings by die Doorspring-afdraai op die spoorwegpad beland het en ons dit met alle mag wou vermy om weer dié slegte stuk pad terug te ry. Ons was geskok om te hoor dat, ten spyte daarvan dat dit eintlik ’n private pad is, dit die enigste pad is wat op Google registreer, veral wanneer jy twee vriendinne in ’n luikrug-motortjie is.
Ons is wel bly om te hoor dat daar planne is om die pad op te knap.


