Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy versprei- dingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, die distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie.

Die 18-jarige Keanen Sass en twee minderjariges, onderskeidelik 17 en 16 jaar oud, het op Donderdag 20 November in die landdroshof verskyn op aanklag van ‘n huisrooftog in Moorreesburg. ‘n Vierde 17-jarige verdagte is vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen aangekla nadat hulle verlede Dinsdag om ongeveer 14:25 ‘n 81-jarige man van Moorreesburg by sy woning in Hooikraal aangerand het. Die klaer het gehoor iemand gooi klippe op sy dak en toe hy gaan kyk, het die jeugdiges met hom op die stoep begin baklei. Hulle het ‘n blombak op sy regter-enkel gegooi, wat sy enkel gebreek het. Die verdagtes het die klaer se huis binnegegaan en sy selfoon en ook die klaer se vuurwapen gebuit voordat hulle gevlug het. Die vier is dieselfde dag aangekeer met die klaer se selfoon in hul besit en hulle het uitgewys waar hulle die wa­pen versteek het. Sass is in April 2022 vir die moord op 16-jarige Adriaan Fredericks aangekeer.

Winston (38) en Lucille (42) Adams is Donderdagaand 20 November omstreeks 23:15 tydens ‘n padblokkade op die R27/Yzerfontein-kruising is voorgekeer met twee sakke perlemoen en krewe in hul besit, Sonder permit. Om 23:50 is die 33-jarige Jason Mouton by dieselfde padblokkade voorgekeer en perle­moen en krewe is ook by hom gevind – ook sonder enige permit. Al drie het Vrydag 21 November in die hoff verskyn.

Die 22-jarige Henry November van Malmesbury is Vrydag 21 November om 05:00 vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwa­pen aangekeer. Die wapen se reeksnommer is afgevyl. Hy het Maandag in die hof verskyn.

Eendekuil: Die 32-jarige Brendon Hektor het op Vrydag 21 November omstreeks 20:00 saam met ‘n paar vriende in Roosstraat gekuier. ‘n Stryery het tussen Hektor en sy aanvaller ontstaan, waarop die aanvaller huis toe gegaan het, maar teruggekeer en Hektor met ‘n mes in die linkerskou­er gesteek. ‘n Oogetuie het probeer om die mes by die aanvaller af te vat, waarop hy ook skrams beseer is. Hektor het met sy aankoms by die hospitaal aan sy wonde beswyk en die aanvaller is steeds op soek.

Die 29-jarige Simfumene Mvumbi het Sondag 23 November in Clanwilliam om 01:15 met sy aankoms by die hospitaal aan erge wonde beswyk. Na bewering is Mvumbi en nog ‘n manspersoon met ‘n private voertuig na die hospitaal geneem nadat hulle meswonde opgedoen het. Hul aanvaller is egter so erg deur lede van die gemeenskap aangerand dat hy steeds mediese behandeling ontvang.

’n Babaseuntjie is Sondag 23 November om 22:34 in ‘n kombersie toegedraai in Fordstraat in Malmesbury gevind. Die seuntjie het mediese behandeling ontvang en ‘n saak van kinderverwaarlosing word ondersoek.

’n Geregtelike doodsondersoek is geopen nadat twee kindertjies op Sondag 23 November om 17:20 in hul woning doodgebrand het. Die driejarige seun­tjie en sy eenjarige niggie was in die huis vasgekeer toe die brand ontstaan het.

Die omstandighede waarin die 27-jarige Athneta Solomons Saterdag 22 November om 18:10 in ‘n VW Golf doodgebrand het, word ondersoek. Die ongeluk het op die Paarl-pad plaasgevind.

 Op Sondag 23 November is daar by twee huise, waarvan die klaers ‘n 81-jarige man en ‘n 66-jarige vrou in dieselfde straat in Velddrif is, ingebreek en selfone en ‘n horlosie is gesteel.

 Let wel: Die huiswinkel waaroor inwoners van Louwville hul bekommer se adres is 29 Houtkapperstraat en nie 20 Houtkapperstraat soos genoem in die berig, “Herrie oor huiswinkel” (Weslander Donderdag 20 November 2025) nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article