Die Cederberg-munisipaliteit het pas ’n nuwe raadslid gekry.
André Grant Mouton is die nuutverkose raadslid vir dié munisipaliteit soos verkies deur stemme in Wyk 6.
Inwoners van Wupperthal en Algeria sal nou in die raad deur Mouton verteenwoordig word. Die Cederberg Eerste-inwonersvereniging, oftewel Cederberg Eerste, is ’n onafhanklike party en beskryf hom as “nie politici nie, maar bloot inwoners wat inwoners dien”.
Die munisipaliteit word tans deur middel van ’n koalisie tussen Cederberg Eerste, die VF+ en die DA bestuur.
Dr. Ruben Richards, ’n Cederberg Eerste-lid, is tans die munisipaliteit se eerste burger.
Cederberg Eerste het sy tevredenheid met die tussenverkiesing, wat op Woensdag, 15 Februarie plaasgevind het, in ’n verklaring uitgespreek.
Die Verkiesingskommissie van Suid-Afrika het verlede week die kiesers se besluit bekend gemaak. Die verkiesing is deur 46,68% van Wyk 6 se kiesers beslis en het daartoe gelei dat Cederberg Eerste sy setel, wat hy eers in die 2021- munisipale verkiesing gewen het, behou.
Mouton en sy party het met 47,43% van die stemme op die dag gewen.



