Die Oudorp-buurtwag in Vredenburg is slaggereed om hul buurt veilig te hou.
Sammy Springleer, sekretaresse van die Oudorp-buurtwag, verduidelik die buurtwag bestaan uit 13 permanente vrywilligers wat strate patrolleer. Die bestuurders ry in skofte en kan aan hul gemerkte voertuie uitgeken word.
Springleer sê die buurtwag is baie aktief in die gemeenskap en dien om veiligheid in die buurt te handhaaf en die polisie te help waar hulle kan. Die Oudorp-buurtwag het die afgelope maand talle suksesse gehad en die gebied sodoende ’n veiliger plek gemaak.
Volgens Springleer het die buurtwag Donderdag 11 Augustus iemand vasgetrek wat glo by koperkabeldiefstal in Dirkie Uysstraat betrokke was. Nog iemand is Vrydag 19 Augustus deur buurtwaglede in Breëstraat ná ’n vermeende inbraak aangekeer en opgesluit, terwyl nog twee mense in Voortrekkerstraat oorkant die hospitaal deur die buurtwag weens inbraak en opsetlike beskadiging van eiendom aangekeer is.
“Ons probeer altyd die skuldiges vasvat en te verhoed om vrye teuels in ons gebied te hê. Hulle is soos aasvoëls wat altyd probeer om te verslind en te vernietig,” vertel Springleer.
Omdat die buurtwag alles op ’n vrywillige grondslag doen, is skenkings ook welkom om petrolkostes, toerusting en meer te dek.
Om die dorp te beveilig, moedig Springleer inwoners aan om voorvalle by die buurtwag sowel as by die polisie aan te meld.. Lede van die gemeenskap, wat by die Oudorp-buurtwag wil aansluit, kan Springleer by 078 165 2959 of Stiaan Pool (die voorsitter) by 065 095 4318 bel.



