Om rustig in jou tuin te stap en op ’n bul af te kom is nie ’n gesig wat die Jacobsbaaiers wil sien nie.
Ongelukkig vir inwoners is dit egter ’n byna daaglikse gebeurtenis. Inwoners van die dorp sê hulle is moeg van die rondloper vee wat in hul strate wandel en die plante in hul tuine opvreet.
“Het jy al gesien hoe polisiebeamptes, wat reg en orde moet handhaaf, vee moet rondjaag? Dit is iets wat ons gereeld sien wanneer hulle belangriker werk het om te doen,” meen een inwoner wat met Weslander gesels het.
Dié inwoner, wat anoniem wou bly, sê die beeste kom van die naburige Diazville en wandel deur die dorp sonder hul eienaar of iemand wat na hulle kyk.
Klagtes aan die Saldanhabaai-munisipaliteit het glo intussen tot die oprig van ’n kamp gelei, maar die heining vir die stuk grond is nog nie voltooi nie.
Benewens die plantegroei wat gevreet word, is inwoners ook bekommerd oor die moontlikheid van ’n ongeluk. Die vee loop daagliks rond sonder toesig en aangesien die dorp nie straatligte het nie is daar ook kommer oor motoriste wat in die donker ’n bees kan tref.
Volgens ’n inwoner wag hulle ook vir die dag dat iemand die diere gif ingee om uiteindelik ontslae van die rondlopers te raak.
Die Saldanhabaai-munisipaliteit se verordeninge met betrekking tot diere stel dit dat “Geen eienaar of persoon— (a) wat beheer het oor ’n wilde of kwaai dier, aap of horingvee, mag toelaat dat dit te eniger tyd in ’n straat of openbare plek sonder voldoende toesig is of los rondloop, of mag sodanige dier op so ’n wyse aanhou dat dit gevaarlik of ’n ergernis vir die publiek kan wees nie.
“(b) mag duld, toelaat of veroorsaak dat enige dier in of op enige straat of openbare plek wei of rondloop nie.”
By navraag het Ethne Lawrence, woordvoerder van die munisipaliteit, gesê rondloperdiere is ’n probleem in die munisipale gebied en eienaars word gereeld beboet oor hul wandelende diere.
Die munisipale wetstoepassers is die verantwoordelike owerheid in so ’n geval van diere en Lawrence sê volgens die munisipale verordening mag diere wat op openbare ruimtes ronddwaal, geskut word.
“Saldanhabaai-munisipaliteit is besig met ontwikkelings om te help met die vervoer van rondloperdiere na die diereskut, geleë langs die R45 tussen Vredenburg en Hopefield,” verduidelik Lawrence.
Hierdie diereskut word deur die plaaslike Weskus- en Swartland- Dierebeskermingsvereniging (DBV) namens die munisipaliteit bedryf.





