In die aanloop tot die brandseisoen sê Working on Fire almal kan hul deel doen om te help.

Working on Fire is ’n uitgebreide openbarewerke-program en het 40 basisse en 800 brandbestryders reg oor die provinsie. Plaaslik werk die organisasie saam met die Weskus-distriksmunisipaliteit om brande te bestry.

“Die brandseisoen begin amptelik op 1 Desember, maar ons is gereed,” sê Linton Rensburg, wat aan die stuur is van belangegroepverhoudings by Working on Fire.

Wanneer dit nie brandseisoen is nie, het die spanne van Working on Fire twee hoofmandate – bewusmakingsprojekte en hulpverlening, veral met grondeienaars om hul eiendomme teen brande te beskerm. “Iets so eenvoudig soos rommel wat langs jou woning lê of geute wat nie skoongehou word nie, hou ’n brandgevaar in. Ons help ook grondeienaars, en in die Weskus veral boere, om brandstroke te maak, wat sal keer as ’n brand wel ontstaan, dit nie so maklik sal versprei nie. Brandstroke bied ook brandbestryders toegangspaaie in gebiede,” sê Rensburg.

Aan die Weskus werk Working on Fire ook met CapeNature en die Parkeraad om te verseker veldbrande word onder beheer gebring.

Dit is egter nie net brandbestryders wat dié brande met watertenkwaens blus nie.

In Porterville word van die organisasie se vliegtuie en helikopters gehou wat gebruik word om groter brande onder beheer te bring. “Die Wes-Kaap is droog en warm in die komende maande, en as gevolg van klimaatsverandering is die verwagting dat die somers net warmer sal raak. Dit beteken meer intense brande aan die Weskus,” sê Rensburg.

Hy maan inwoners en besoekers om tydens die brandseisoen versigtig te wees.

“Hou die weer dop en neem kennis van weer-waarskuwings. Moenie buite ’n oop vuur vir ’n braai op rooi-dae maak nie. Die kanse vir ’n onbeheerde brand om te ontstaan, is dan soveel groter. Baiekeer word kole nie heeltemal geblus nie en die Weskus-windjie kom dalk later op, wat ’n groot brandgevaar is. Dit is een van die algemeenste maniere hoe brande versprei.”

Terwyl brandbestryders soos diegene van Working on Fire gereed maak vir die brandseisoen, is daar ook ’n manier vir die publiek om dié beamptes by te staan in hul besigste tyd, sê Rensburg.

Hy sê skenkings van drinkwater, energiedrankies en energiestafies is altyd welkom, veral omdat brandbestryding ure lank kan neem en voorraad nie onmiddellik aangevul kan word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article