Die Bergrivier Munisipaliteit het bevestig dat die huurkontrakte van die historiese vissershuisies in Bokkomlaan, Velddrif, verleng is tot 30 Junie 2026.
In Weslander se berig van 30 Oktober (“Bokkomlaan bedreig: ‘Munisipaliteit ontken geskiedenis’“) is inwoners se kommer oor onduidelike wysigings aan kontrakte uitgelig.
Volgens die munisipaliteit het die saak in Mei die jaar voor die Burgemeesterskomitee en Raad gedien, en is dit verwys vir ’n regsopinie nadat ’n formele regsbrief ontvang is.
“Die Raad sal verdere rigting gee sodra die regsmening voltooi is,” lui die verklaring van die BM.
Verskeie eienaars van plaaslike ondernemings in Bokkomlaan sê die verlenging bring tydelike verligting, maar geen werklike sekerheid oor hul toekoms nie. “Ons is bly vir die asemruimte, maar ons weet nie wat daarna gebeur nie,” sê Mostert.
Gemeenskapsaktivis Rudolph de Villiers meen die kwessie raak die kern van Velddrif se geskiedenis. “Hierdie huisies is deel van ons erfenis – die mense van Bokkomlaan verdien openheid en duidelikheid,” sê hy.
Die vissersgemeenskap wag nou op die uitkoms van die regsmening wat moet bepaal hoe die kontrakte en besitstatus voortaan hanteer sal word.




