Boeliegedrag onder leerders bly ’n kommerwekkende kwessie wat elke nou en dan die kop uitsteek.
Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) is daartoe verbind om boeliegedrag by skole hok te slaan. Volgens Unathi Booi, ’n woordvoerder vir die departement, het die WKOD ’n aantal intervensies wat op afknouery fokus.
“Daar is talle veldtogte teen afknouery op beide distriks- en skoolvlak. Byvoorbeeld, teen-boelie-konferensies of teen-boelieweke waar daar voorspraak en opvoeding oor kuberafknouery is en praktiese stappe wat leerders kan neem om hulself teen afknouery te beskerm.
“Ons bevorder ook voortdurend ons Veilige Skole-hulplyn wat berading, ondersteuning en raad aan leerders en ouers bied – sowel as ’n meganisme om sulke gedrag vir verdere ondersoek aan te meld. Ouers en leerders moet eers sulke mishandeling by hul onderwysers/skoolbestuur aanmeld. Dit is belangrik dat die skoolbestuur bewus is van die bewerings sodat hulle dit so gou as moontlik kan aandurf. Leerders en ouers kan die Veilige Skole-hulplyn by 0800 45 46 47 skakel.”
Op tuisbodem het die kollig op boeliegedrag geval nadat ’n leerder by ’n Paarlse skool sy beweerde boelie, wat ook ’n leerder is, met ’n skerp voorwerp gesteek het.
Volgens kapt. Basil Seekoei, ’n woordvoerder vir die Paarl-Oos-polisie, het ’n onderonsie tussen ’n 17-jarige seun en ’n 19-jarige seun ’n gewelddadige wending geneem toe die 17-jarige, wat glo geboelie is, die 19-jarige seun met ’n skerp voorwerp gesteek het.
Booi bevestig dat die 19-jarige mediese behandeling ontvang het en in ’n bestendige toestand is.
Die 17-jarige seun het op 19 Februarie in die hof verskyn en is tans in ’n plek van veiligheid.



