Layken Bester (gr. 6) van Noordhoek Primêr saam met Matteus.


Meer as 3 100 leerders van skole in Velddrif, Saldanha en die Langebaanweg-lugmagbasis is vroeër vandeesmaand tydens ’n besoek van AfriForum se teenboeliespan en die span se gelukbringer, Matteus, besoek.

Die leerders is bewapen met slim planne om hulle teen uiteenlopende soorte boeliegedrag te staal.

Die span het ’n inligtingsessie oor hierdie ernstige maatskaplike kwessie op ’n kindervriendelike en prettige manier vir die leerders van Langebaanweg Primêr, Noordhoek Primêr, Diazville Primêre Skool en die Hoërskool Velddrif aangebied. Hulle het ook praktiese hoop gebring vir kinders wat óf blootgestel word aan afknouery óf self in die strik van boeliegedrag trap.

AfriForum se teenboelieveldtog het sewe jaar gelede ontstaan en hy besoek jaarliks skole oor die hele land heen om leerders, onderwysers en ouers oor die gevare van boeliegedrag in te lig en hulle te bemagtig met praktiese raad om hierdie gedrag in huishoudings, skole en die gemeenskap hok te slaan.

Jeug is toekoms

Deur middel van die praatjies wat by skole aangebied word, word jong mense op ’n interaktiewe en ontspanne wyse aangemoedig om mekaar met die nodige wedersydse erkenning en respek te hanteer.

Volgens Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir Jeugleierskap, is projekte soos dié noodsaaklik vir die vestiging van gesonde gemeenskappe en ’n beter toekoms.

“Die jeug is immers ons toekoms,” verduidelik sy. “Hierdie veldtog lewer uiteindelik ook ’n positiewe bydrae tot die veiligheid van gemeenskappe, aangesien die boompies gebuig word terwyl hulle nog jonk is.”

Navorsing toon dat kinders wat geboelie word, dikwels laer vlakke van selfbeeld en verhoogde angs ervaar. Albei hierdie elemente kan jong mense se akademiese prestasie negatief beïnvloed en juis daarom spits AfriForum se teenboeliespan hom toe op bewusmaking by skole.

Volgens Lee-Ann Davids-Hartzenberg, hoof van Diazville Primêre Skool, is moeilike huislike omstandig­hede of huishoudings waar ouer sibbe vir die versorging van jonger boeties of sussies verantwoordelik is, ’n algemene verskynsel in dié gemeenskap. Boonop dra groepsdruk en toenemende bendeaktiwiteite ook by tot die las wat kinders hier dag ná dag dra. Sy bestempel daarom die AfriForum-teenboeliespan se besoek as “broodnodig”.

Vir Hester Truter, ’n gr. 1-onderwyseres by die Hoërskool Velddrif, ’n gekombineerde hoër- en laerskool in dié Weskus-dorp, was die span se besoek “van onskatbare waarde”.

“Leerders verwar soms boeliegedrag met onbeskofte gedrag, maar hulle is vandag op ’n kreatiewe wyse bewus gemaak van wat boeliegedrag eintlik is,”

verduidelik sy.

Die verskyning van Matteus, die groter-as-lewensgroot geluk­bringer – kompleet met sy wapenrusting gebaseer op die Bybelse geestelike wapenrusting – het boonop vir groot opwinding onder leerders hier gesorg.

“Na afloop van die praatjie weet elke leerder hoe om boeliegedrag te identifiseer en te stop,” verduidelik Tania Scheepers, AfriForum se projekassistent vir onderwys.

“Hierdie kennis is van kardinale belang en rus leerders op ’n jong ouderdom toe met die nodige vaardighe­de om nie net te weet hoe boeliegedrag lyk nie, maar ook hoe om dit te voorkom.”. Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveld­tog en om die teenboelie- en kuberboeliegids gratis af te laai, besoek gerus www.teenboelie.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article