Dis nou maar eenmaal nie ’n lekker gevoel as dinge nie uitwerk soos wat jy gehoop het dit sal nie. Die emosies wat daarmee gepaard gaan, kan wissel van erge teleurstelling tot twyfel in jou eie vermoë.
Ek was al ’n paar keer daardeur. Jy weet dat jy alles haarfyn beplan het en jou navorsing deeglik gedoen het. Die eindresultaat? Net die teenoorgestelde van jou hoopvolle verwagting dat die plan mooi sal uitwerk. En dan kom al die vrae, soos: Wat kon ek anders gedoen het? Het ek dalk iewers ’n stap misgekyk of bloot nie sekere gevaartekens raakgesien nie?
Nie so lank gelede nie het ek oudergewoonte weer die gejeuk in my groenvingers gevoel. Ek wou weer saadjies in die grond sit. Ek wou weer daai gevoel van opgewondenheid beleef as die eerste sade begin kop uitsteek en die groeiproses van begin tot einde kan waarneem en geniet.
Dié keer was egter anders as die vorige kere.
Jy sien, ek het nie die luuksheid van ’n lappie grond waar ek na hartelus kan plant, skoffel en natmaak nie. Dus moet die paar plantbakke voor my woonstelletjie maar weer die truuk doen.
Wat hierdie keer anders was, is die feit dat ek met ’n paar tipiese rankplante wou eksperimenteer – waatlemoen en komkommer, om presies te wees. Ek wou dit waag om te kyk of ek soos al die vorige kere hiermee ook ’n oes kan lewer. My sak kompos sal weer moet diens doen, want dan weet ek ten minste dat die grondgehalte vir my volgende oes verseker is.
Die plant van die sade was die maklike deel, en siedaar – ná slegs ’n paar dae begin die eerste saadjies die kop uitsteek. Gereelde natmaaksessies het uiteindelik bygedra dat my waatlemoen- en komkommer-eksperiment ná net ’n paar weke groen en welig gepronk het.
En toe my skielike gewaarwording dat iets hierdie keer begin skeefloop – hoewel die blommetjies al begin wys het, was daar tekens dat die vruggie ná die blomtydperk net nie ten volle kon ontwikkel nie. Genoegsame water was gewis nie die probleem nie. Ek wil glo dat my grondsamestelling reg was, maar tog het geen vrug na vore gekom nie. Die versengende Februarie-hitte kon dalk ’n bydraende faktor gewees het, maar dan weer het ek altyd my gieter met genoegsame water byderhand gehou.
Dit was met my laaste natmaaksessie dat ek tot die skokkende ontdekking begin kom het dat my waatlemoen- en komkommerbeddings ’n tekort aan diepte gehad het; dat die lappie grond die antwoord op my sukkelende eksperiment sou wees.
Ek het intussen begin vrede maak met die feit dat ek vir die eerste keer nie ’n gesonde oes sal sien nie. En wat is die teenoorgestelde van ’n gesonde oes? Natuurlik ’n misoes. Die woord misoes het nou maar eenmaal nie lekker op my oor en gemoed geval nie, en tog is dit die uitkoms waarop ek my moes voorberei. En as ek nou so na my waagmoedige poging kyk, is daar slegs die lesse wat ek hierdie keer saam met my kan neem. Al was ek ook hoe optimisties dat ek dalkies, net dalkies, ’n waatlemoen of ’n komkommer uit my oes sal kry, het die diepte van my grondvoorraad kortgekom.
Die spuitstowwe om die peste en plae weg te hou, was ook afwesig, want ek wou mos maar net ’n kans waag om te sien of dit dalk kan uitwerk daarsonder. Toe nie. Groenvingers vir die pret daarvan of vir die aanvul van kosvoorraad op ’n weeklikse of maandelikse basis vereis dat al die basiese beginsels vir die versekering van ’n suksesvolle oes noukeurig gevolg word. As dit nie die geval is nie, moet jy maar gereed maak vir een of ’n paar misoeste uit ’n spesifieke seisoen.
Sal ek myself nou vir ewig en altyd sit en verwyt oor my blapse wat ek met hierdie plantseisoen gemaak het? Ag nee wat, dit sal regtigwaar nie die moeite werd wees nie. Ek het gewaag en geëksperimenteer.
Dit het nie gewerk nie; punt.
Volgende keer probeer ek net weer. Dan sal ek slimmer te werk gaan; sal ek seker maak dat my sade die gronddiepte sal kan absorbeer om die verwagte oes te lewer.
En met alles wat tot nou met my verwagte oesie skeefgeloop het, bly ek steeds hoopvol vir ’n klein wonderwerkie – daai een of twee komkommers en dalk ’n waatlemoen. Wie weet, miskien word al my harde werk aan die einde van die seisoen beloon, al lyk die kanse daarvoor baie skraal.
En of dit dan nou ’n eenvoudige tuinmaakprojek, jou volgende potensiële deurbraak-saketransaksie, ’n sukkelende huwelik, daai kind vir wie jy nou al jare bid om finaal uit sy of haar dwelmafhanklikheid weg te breek of die kompleksiteit van familie- en vriendskaplike verhoudings – maak jou maar gereed vir daai tye as dinge nie altyd uitwerk soos jy hoop nie; dat ons soms die misoes wat daaruit kan voortspruit, moet en kan aanvaar, die lesse daaruit leer en aanbeweeg.
Bly egter hoopvol vir die wonderwerke wat uit ’n skynbare misoes na vore kan tree.





