’n Vroeë oggend se visvang op die Bergrivier het op 2 Januarie ’n onverwagse wending geneem toe Alan Kessell, ’n plaaslike visserman en natuurliefhebber, op ’n ernstig beseerde bloureier afgekom het wat in ’n vislyn verstrengel was.
Kessell, wat gereeld op die Bergrivier visvang en per boot die rivier verken om die ryk voëllewe te geniet, het die reier onder die brug gewaar. Van ’n afstand af kon hy sien dat die voël vashang in ’n vislyn wat aan kragdrade geheg was.

“Ek het gesien iets is verkeerd toe die reier nie kon beweeg nie,” vertel Kessell. “Toe ons nader vaar, was dit duidelik dat hy erg beseer is. Die vislyn het hom vasgetrek, en die drie vishoeke aan die lyn het deur sy linkeragterbeen en albei vlerke gesteek.”
Volgens Kessell het dit gelyk of die reier van die land se kant af gevlieg en in die vislyn vasgevlieg het. Hy het nie tyd gemors nie en het die reier versigtig in sy boot gelaai en die vislyn afgeknip. Die duidelik getraumatiseerde voël het egter in selfverdediging met sy skerp snawel na Kessell se hand probeer byt, en hom lig beseer.
Kessell het onmiddellik vir Etienne Swanepoel, plaaslik bekend as ’n slangvanger en natuurbewaarder, gekontak. Swanepoel het die bloureier na Weskus Veeartseny Ing geneem, waar veeartse dr. Marthinus Jacobs en dr. Lucinda Cowan dadelik hulp verleen het.
Volgens Swanepoel is die voorval ’n ernstige herinnering aan die belangrikheid van verantwoordelike visvang. “Visvang binne 100 meter van kragdrade is onwettig. Verlate vislyne en hoeke hou ’n groot gevaar vir wildlewe in,” het hy gesê.

Dr. Cowan het verduidelik dat drie vishoeke verwyder moes word: een uit die linkeragterbeen en een uit elke vlerk. “Die vlerke was erg verstrengel en die wonde was rou en pynlik,” het sy gesê. Die wonde is ontsmet en die reier is vir etlike dae versorg en gevoer met sardientjies totdat hy sterk genoeg was en die beserings begin genees het.
Later dieselfde naweek is die bloureier weer in sy natuurlike habitat vrygelaat, waar hy sy vlerke kon sprei en wegvlieg, ’n oomblik wat groot verligting gebring het vir almal betrokke.
Die suksesvolle reddingspoging het vinnig op sosiale media versprei. In ’n Facebook-inskrywing het Weskus Veeartseny Ing hul dank uitgespreek aan dr. Cowan en Etienne Swanepoel vir hul toewyding, en die publiek herinner dat sulke beserings algemeen, maar voorkombaar is. Die inskrywing lui onder meer: “Onthou altyd om vislyne, hoeke en visgerei behoorlik weg te gooi om ons geveerde vriende te beskerm.”






You must be logged in to post a comment.