Gert Venter, die president van die Road Thunders-motorfietsklub, het William Munnick as volwaardige lid van die klub ingewy.Foto’s: Road Thunders


Wat het motorfietsryers in gemeen, behalwe hul liefde vir die langpad, die wind in hul baarde en ’n brullende enjin?

Omgeeharte vir mekaar, hul medemens, die gemeenskap én waardevolle liefdadigheidsake – dít is deels die boodskap wat Chris Venter, die klubpresident van die Road Thunders-motorfietsklub, wyer wou versprei deur die ongewone stap om ses van sy nuwe lede se klub-kentekens in die openbaar te oorhandig.

In die motorfietsklubwêreld is die dra van ’n geborduurde klubkenteken, bekend as ’n patch, ’n eer en ’n voorreg, want dit word in oorleg met die klubbestuur toegeken aan lede wat gewerk het om dit te verdien. Lede dra dit as bewys van lidmaatskap en, verduidelik Venter, “nadat hulle onderneem het om alle klubprotokols en -reëls na te kom en die klubbestuur daarvan oortuig is dat hulle in hul harte ware bikers is”.

Die dra van klubkentekens is ’n Amerikaanse gewoonte wat uit die 1920’s dateer met die stigting van die eerste Amerikaanse motorfietsryersvereniging, waar lede hul klublogo, klubnaam en die streek waarvandaan hulle kom, met die hand op hul leerbaadjies borduur het.

Venter het gesê sy klub het Saterdag (1 Julie) geskiedenis aan die Weskus gemaak deur die patches by ’n geselligheid by die Sandstone-restaurant in Saldanha voor die burgemeester, André Truter, en sy vrou, Sheena, en ander uitgelese gaste te oorhandig – gewoonlik ’n geleentheid wat eksklusief deur klublede bygewoon word.

Venter wou deur die publiek by dié oorhandiging te betrek, hulle so bietjie oor die wêreld van motorfietsryers leer. Hy het aan die gehoor gesê respek is baie belangrik in biking, saam met lojaliteit, eerbaarheid, waardigheid en betroubaarheid.

Truter het die motorfietsryers bedank vir hul onbaatsugtige ondersteuning van liefdadigheidsorganisasies aan die Weskus en ’n paar herinneringe van sý jong dae as ’n motorfietsryer herroep.

Verskeie pryse is aan lede van die publiek ook uitgedeel.

Venter bedank die Truters, Liandri van Jaarsveld (DA-jeugliga), JP Bezuidenhout (Sandstone) en al die motorfietsklubs wat die dag moontlik gemaak het, veral die Mac’s, die Mac’s Familia, die Meeulanders, die Orphans, Undaunted, die MOTH’s, Street Metal en Megaforce Weskus.

Venter het benadruk dat motoriste op die uitkyk moet wees vir motorfietsryers, want hulle is iemand wat by die huis wag se hele wêreld.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article