“Vir ewig ’n Biker Angel . . . en vir ewig in ons harte.”
Só skryf ’n vriendin van ’n 24-jarige motorfietsryer wat net ná middernag op 1 April in Langstraat, Moorreesburg, verongeluk het.
Conrad Nelson (24), ’n oud-leerder aan die Hoërskool Dirkie Uys, was omstreeks 00:43 op pad terug van die Swartland Rally wat die naweek by dié dorp gehou is.
Volgens Tania Helfrich, polisiewoordvoerder vir die Weskusstreek, het hy beheer oor sy motorfiets, ’n rooi Kawasaki ZX-10, verloor en op die ongelukstoneel aan sy beserings beswyk.
Nelson word met liefde onthou deur sy vriende soos Aneke Annie de Vries wat verder op Facebook skryf dat sy weet “Coenie” nou “die stof uit die wolke uit dans”. Sy maak ook melding daarvan dat hy nog baie toekomsdrome gehad het.
“Coenie, jy moet sag rus . . . Jou aansteeklike lag, menswees en lus vir die lewe sal ons nooit vergeet . . .Dis nie totsiens nie . . .dis net tot ons weer sien.”
Die organiseerders van die Swartland Rally het ook hul medelye op Facebook uitgespreek en hul innige simpatie met Nelson se gesin, sy pa, Johan, en ma, Reinette Nelson, en vriende uitgespreek.
Hein Gunter, hoof van die Hoërskool Dirkie Uys, skryf: “Ons betreur [die] vroeë, skielike heengaan van een van die Tiere-familie. Ons innige simpatie aan sy gesin.”
Weslander het met Nelson se familie probeer kontak maak, maar teen druktyd geen terugvoering ontvang nie.
Die begrafnisreëlings was ook nie bekend nie.





