Die Wes-Kaapse Regering het Maandag (26 Mei) ‘n mylpaal bereik in sy verbintenis tot veiliger paaie en beter dienslewe-
ring met die bekendstelling van die
Gemeganiseerde Toetsstelsel vir Leerling-
lisensies (CLLT) by die Beaufort-Wes-
lisensietoetssentrum.
“Om ons ekonomie te laat groei en meer werksgeleenthede te skep, moet ons verseker dat ons inwoners oor die nodige vaardighede beskik om aan die ekonomie deel te neem. ‘n Rybewys is ‘n belangrike vereiste vir baie poste en daarom moet ons dit so maklik as moontlik maak vir al ons inwoners om hul rybewyse te verkry,” sê Isaac Sileku, die Wes-Kaapse minister van mobiliteit.
By die bekendstelling is ‘n demonstrasie gedoen van die digitale toetsstelsel wat die tradisionele handboek-metode vervang. Dié vernuwing is daarop gemik om die leerlinglisensietoetsproses in die Wes-Kaap te transformeer.
Die nuwe stelsel word in vennootskap met die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) geïmplementeer, met die doel om die gehalte van bestuurders op Wes-Kaapse paaie te verbeter.
Voordele van die nuwe stelsel sluit in:
• Bevorder veiliger, meer verantwoordelike bestuur deur gestandaardiseerde toetsing;
• Ondersteun gehoorgestremdes deur
aanlyn instruksies in verskeie tale – sonder dat ‘n tolk nodig is; en
• Lewer vinniger en meer akkurate resultate deur onmiddellike digitale verwerking.
“Die stelsel verseker dat elke aansoeker, ongeag vermoë, met regverdigheid en waardigheid behandel word,” sê Sileku.
Die toetsterminale, elk beveilig met vingerafdrukverifikasie, is direk gekoppel aan die nasionale verkeersinligtingstelsel (NaTIS) en genereer regverdige toetsvrae.
Inwoners kan afsprake maak vir leerlinglisensietoetse by ‘n bestuurslisensie-toetssentrum en aan die hand van gratis aflaaibare studiegidse van die www.natis.gov.za-webtuiste vir hul toetse voorberei.



