Verskeie moorde is die afgelope naweek, wat die naweek net ná betaaldag was, in die Weskus gepleeg:. Op Donderdagaand 31 Augustus om 23:40 het die eienaar van ’n huis in Duifstraat in Louwville die Vredenburg-polisie in kennis gestel dat iemand om hulp skree. Die man het gaan ondersoek instel en op die 20-jarige Sibusiso Zenani afgekom, wat veelvuldige wonde aan sy lyf gehad het, het kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder, gesê. Zenani het met sy aankoms by die Vredenburg-staatshospitaal gesterf. Die polisie ondersoek die motief vir die moord en wie verantwoordelik is.. Vier mans – twee Lesotho-burgers en twee plaaslike inwoners, 19 en 26 jaar oud – is in Citrusdal in hegtenis geneem vir ’n mesmoord. Die beskuldigdes het Dinsdag 5 September in die Citrusdal-landdroshof verskyn weens die moord op Ayabonga Kheyizama (24), wat Sondagoggend om 02:45 met messe aangeval is. Hy is met veelvuldige steekwonde in die plaaslike hospitaal opgeneem, waar hy aan sy beserings gesterf het.. ’n Man wie se identiteit nog onbekend is, se lewelose liggaam is Vrydagaand 1 September om 20:20 in Lepelaarstraat in Witteklip, Vredenburg, gekry. Die oorledene het wonde aan sy kop en gesig gehad. ’n Moordsaak word ondersoek. ’n Stryery oor ’n gasbottel het Saterdag omstreeks 11:50 in Saldanha tot die dood van die 44-jarige Thulani Chithonbo gelei. Hy is met ’n mes aan die linkerkant van sy nek gesteek. Chereldine du Preez (36) is in verband met die moord in hegtenis geneem en het Dinsdag 5 September in die Vredenburg-landdroshof verskyn.. Motsamai Daniel Moloi (27) van Lutzville is Sondagoggend om 02:26 deur ’n 17-jarige seun met ’n mes doodgesteek. Die twee was blykbaar in ’n bakleiery betrokke. Die jeugdige het Maandag in die Vredendal-landdroshof op aanklag van moord verskyn.’n Paar sake van strafbare manslag word ook ondersoek:. Die St. Helenabaai-polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag nadat ’n 57-jarige inwoner, Hendrik Cloete, Donderdagaand om 20:30 beheer oor sy voertuig verloor en noodlottige beserings opgedoen het. Hy het op die toneel gesterf.. Die 27-jarige Khokong Mosola van Clanwilliam is Saterdag om 11:25 dood nadat hy en nog passasiers uit ’n vragmotor geval het. Die vragmotor se klap het glo oopgegaan terwyl dit nog in beweging was. Die ander passasiers het mediese behandeling ontvang en ’n saak van strafbare manslag word ondersoek.. Clifford January (24) het Maandag (4 September) in die Malmesbury-landdroshof verskyn op aanklag van strafbare manslag nadat inwoners Sondagnag omstreeks 23:50 op die lyk van ’n onbekende slagoffer op die Darling-pad naby die Bloemendal-plaas afgekom is. January se voertuig se nommerplaat is by die lyk gekry.Nog misdaadbrokkies:. Die 44-jarige Heinrich Nel van Malmesbury, wat in April vanjaar ’n boor by iemand “geleen” en toe verkoop het, is Donderdag, terwyl ’n lasbrief tot inhegtenisneming op hom beteken is, weer in hegtenis geneem nadat hy ’n polisiebeampte met die vuis bygedam het. Nel het Maandag (4 September) in die Malmesbury-landdroshof verskyn.. Dewan Booise (19) is Vrydag 1 September in hegtenis geneem nadat hy in Convillestraat, Malmesbury, ’n hond met ’n mes in die oog gesteek het. Die beskuldigde het Maandag (4 September) in die Malmesbury-landdroshof verskyn.
Want to comment on posts, engage with fellow readers, and submit stories, letters, feedback and more?



