Die St. Helenabaaise bestuurder van ’n bakkie wat van agter in ’n vragmotor vasgery het, is dood en nog drie mans is beseer.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder, het ’n wit Toyota Hilux-bakkie Donderdag (18 Januarie) net ná 19:00 naby Hopefield van agter teen ’n vragmotor met twee sleepwaens vasgery.
Die vragmotorbestuurder was besig om in die Velddrif-pad van die R45 af regs te draai toe hy ’n harde slag hoor. Hy het stilgehou, uitgeklim en vier beseerde mans in die bakkie gekry.
Die bakkiebestuurder, Luyanda Mrhululu (38) van St. Helenabaai, moes uit die voertuig gesny word, en is Vrydagoggend vroeg in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad oorlede.
Die ander drie mans word met veelvuldige beserings in die Vredenburg- provinsiale hospitaal behandel.
Die polisie ondersoek nog die saak.. Die Hopefield-polisie het Donderdagaand (18 Januarie) ’n 41-jarige groente-en-vrugteverkoper by sy huis in Rooikransstraat, Hopefield, vir dwelmhandel in hegtenis geneem.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder, het polisiebeamptes op ’n swartsak vol dagga afgekom.
Die verdagte moet op 30 April weer in die landdroshof verskyn.



