Die eerste Lief Laaiplek-feesmark is Donderdag 21 September amptelik ingewy. Die mark, met ’n verskeidenheid handgemaakte produkte en lekkernye, duur tot Saterdag 30 September.
Volgens ds. Charl van Rensburg van die NG kerk Laaiplek, verloop die feesmark tot dusver bo verwagting baie goed. Met byna 2 000 mense wat die feesmark die eerste vier dae besoek het, lyk die getalle goed.
Van Rensburg verduidelik die doel van die feesmark is om uitstallers die geleentheid te gee om hul produkte uit te stal en te verkoop en as geldinsameling vir die gemeente te dien.
Allerhande produkte is te koop, soos tuisgebakte disse, handgemaakte produkte, gesonde kosse, stokperdjie-produkte en meer.
Besoek hulle gerus by die NG kerk Laaiplek se kerkterrein by Kerkstraat 1, Laaiplek. Die mark se tye is Maandag tot Vrydag van 10:00 tot 18:00 en Saterdag van 09:00 tot 14:00.





