Personeel van die Hoërskool Weston het op Donderdag 16 Mei bymekaargekom ter bewusmaking van kinderbeskerming.
By dié geleentheid het elkeen ’n groen strikkie gedra om te wys dat hulle teen geweld en mishandeling van kinders is. Daar is ook ’n stiltetyd gehou waarin twee kerse aangesteek is vir dié wat al hul lewe verloor het as gevolg van geweld en dié na wie daar steeds gesoek word.
Deur die loop van die oggend was Badisa Weskus en die Vredenburg-polisie deel van die geleentheid. Hulle het die gr. 9-leerders van die skool toegespreek en meer vertel oor die verskillende soorte mishandeling en die stappe wat geneem kan word teen die mishandelaar.
Eloise Ockhuis, die skool se ondersteuningsassistent, sê kinders word nie genoeg bewus gemaak van mishandeling en die stappe wat geneem kan word – en dat daar ondersteuning is nie. “Ons as Weston-personeel gesamentlik met Badisa Weskus en die plaaslike polisie hoop dat die leerders baat gevind het by die boodskap en weet dat hulle nie alleen is nie.”



