Die begroting vir 2025-’26 is vroeër vanjaar op die derde raadsvergadering in ‘n gemeenskapsaal – dié keer in die Eendekuil-gemeenskapsaal – bekendgemaak.

Die vergadering is ook regstreeks op YouTube uitgesaai.

“Volhoubaarheid en goeie bestuur was die hoofdryfkragte om beleggersvertroue in die Bergrivier- munisipale gebied te lok,” het Ray van Rooy, uitvoerende burgemeester van die Bergrivier, gesê.

Hy het in sy begrotingsrede gesê die raad het net meer as R759 miljoen vir die 2025-’26-boekjaar goedgekeur.

Van Rooy het genoem dat gesonde bestuursbesluitneming, nege opeenvolgende skoon oudits en ‘n bestendige politieke landskap instrumenteel was om doeltreffende bestuur te verseker, openbare vertroue te versterk en die munisipaliteit in staat te stel om sy strategiese doelwitte te bereik.

Van Rooy het inwoners ten spyte van ‘n blink vooruitsig gewaarsku deur te noem dat die munisipaliteit se groeiende uitgawerekening ‘n beduidende struikelblok vir diensleweringspogings blyk te wees.

RUGGRAAT

“Dit is baie moeilik om met die beperkte beskikbare hulpbronne wat ons het, in al die behoeftes binne ons gemeenskappe te voorsien. Dit is om hierdie rede dat ons besluit het om in infrastruktuur te belê, aangesien dit die ruggraat van dienslewering vorm en verseker dat ons gemeenskappe in die lang termyn doeltreffend funksioneer,” het Van Rooy gesê.

Die begroting is opgestel en in lyn gebring met die behoeftes van die gemeenskappe wat ons bedien, soos gedokumenteer in die goedgekeurde Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (2022-2027).

Die goedgekeurde begroting bestaan ​​uit die volgende:

• Kapitaalbegroting van R96,547 miljoen en bedryfsbegroting van R663,115 miljoen. Van Rooy het aangedui dat om hierdie begroting te finansier, stygende tariewe onvermydelik was, maar dit is ná baie oorweging verantwoordelik gedoen.

Tariefverhogings wat op 1 Julie in werking getree het:

• Water styg met 5,5%;

• Elektrisiteit styg met 13,95% (onderhewig aan Nersa se goedkeuring);

• Vullisverwydering styg met 5,5%;

• Riool styg met 5,5%; en

• Eiendomsbelasting styg met 5,5%.

“Die grootste gedeelte van ons kapitaalbegroting vir die 2025-’26-boekjaar sal aangewend word vir die verbetering van ons infrastruktuur wat verantwoordelik is vir water en elektrisiteit. Dit is fundamenteel dat ons in ons infrastruktuur belê vir toekomstige ontwikkeling, beleggersvertroue en dienslewering – veral in die Velddrif-, Noordhoek-, Eendekuil- en Redelinghuys-gebiede,” het Van Rooy gesê.

In sy begrotingsrede het Van Rooy beklemtoon dat alle inwoners wat behoeftige subsidies ontvang, van 1 Julie ‘n 100%-korting op hul eiendomsbelasting tot Junie 2026 sal ontvang.

BETAAL BETYDS

Daarbenewens het Van Rooy genoem dat die raad onlangs miljoene in skuld aan die munisipaliteit afgeskryf en sterker kredietbeheermaatreëls ingestel het om uitstaande geld te verhaal.

Hierdie maatreëls het egter sommige inwoners negatief beïnvloed.

“Dit is belangrik dat inwoners wat hul munisipale rekeninge kan betaal, dit doen. Ons het elke sent nodig om doel- treffende dienste in ons gemeenskappe te lewer en ons kan dit nie doen sonder dat alle rekeninghouers betyds betaal nie,” het hy gesê.

Die munisipaliteit sal egter voortgaan om die kwesbares in die gemeenskap te ondersteun deur die implementering van behoeftigheid-subsidies aan kwalifiserende huishoudings, wat ‘n ondersteuningspakket sal ontvang wat ​​uit 50 gratis elektrisiteitseenhede, 6 kiloliter gratis water en ‘n 100% gesubsidieerde standaard- huishoudelike vullisverwydering- en riooltarief per maand bestaan.

Van Rooy het sy toespraak afgesluit deur die begrotingsbestuurskomitee en al die ander departemente wat betrokke was by die opstel van die begroting en verwante dokumente te bedank.

• Mense wat die volledige begroting en ander verwante dokumente wil besigtig, kan gerus die munisipaliteit se amptelike webwerf by www.bergmun.org.za besoek of die munisipale kantoor by 022 913 6000 skakel.

“Ons bedank die publiek vir hul gevestigde belangstelling.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article