Die munisipale bestuurder, Hanlie Linde, en die burgemeester, Ray van Rooy, is in hul noppies met die tiende skoon oudit wat die Bergrivier-munisipaliteit behaal het. Foto: Matthew Sheldon

“Hierdie prestasie behoort aan elke werknemer, raadslid en lid van die publiek wat met hart, eerlikheid en toewyding werk. Ons het nie net ons tiende skoon oudit behaal nie – ons het die vertroue van ons gemeenskap verdien.”
Só sê adv. Hanlie Linde, die munisipale bestuurder van die Bergrivier-munisipaliteit.

Die burgemeester, Ray van Rooy, het die prestasie met trots verwelkom.
Die ouditeur-generaal van Suid-Afrika het Sondag (30 November) bevestig dat die Bergrivier-munisipaliteit ‘n skoon oudit vir die tiende agtereenvolgende finansiële jaar ontvang het. Dit is ‘n uitsonderlike mylpaal wat min munisipaliteite die Bergrivier-munisipaliteit kan nadoen.

“Hierdie skoon oudit is ‘n bewys van onwrikbare dissipline, professionaliteit en spanwerk. Ons personeel en raadslede werk met integriteit om die Bergrivier-munisipaliteit ‘n voorbeeld van goeie plaaslike regering te maak. Ons is dankbaar en trots op dié erkenning.”

Die ouditeur-generaal se jaarlikse oudit ondersoek elke munisipaliteit se finansiële state, interne beheermaatreëls en die nakoming van wetgewing.
Die volgehoue skoon oudits bevestig volgens die munisipaliteit dat hulle administratiewe en finansiële stelsels stabiel en betroubaar is en goed bestuur word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article