Nomonde Ndlangisa, die bestuurder van die plaaslike toerismeorganisasie, vertel van die nuwe Bergrivier-fietsry-gids.


Toerisme in die Bergrivier- munisipale gebied is besig en bedrywig.

Die plaaslike toerismeorganisasie het Donderdag sy eerste ledevergadering vir die jaar in Aurora gehou, wat met die bekendstelling van die streek se nuwe fietsry-roete gepaard gegaan het.

Terugvoer, besprekings en die organisasie se geldsake is by die geleentheid bespreek. Die Bergrivier-toerismespan het ook van sy planne vir die komende jaar met lede gedeel.

Nomonde Ndlangisa, die bestuurder van die organisasie, het vertel oor die verskeie netwerkgeleenthede wat hulle namens die streek bygewoon het.

“Die Wesgro-meesterklas was een van die geleenthede. Verteenwoordigers van die Weskus se vyf munisipaliteite (Bergrivier, Saldanhabaai, Cederberg, Matzikama en Swartland) het meer geleer oor hoe om ’n gebeurtenis aan te bied, hoe om vir finansiering aansoek te doen en hoe om ons werknemers nuwe vaardighede te leer,” het sy verduidelik.

Bergrivier-toerisme het ook onlangs ’n ontwerper bygekry en danksy die nuwe Design Lab het hul webblad, sosialemedia-platforms en brosjures ’n nuwe voorkoms. Ndlangisa het lede uitgenooi om na die Design Lab uit te reik vir hulp met plakkate of ander promosiemateriaal.

Benewens die voëlgids en kampgids wat bygewerk is, het die organisasie ook sy eerste gids vir fietsryers bekend gestel.

Dié gids bevat al die gewildste fietsry-roetes in die munisipale gebied, en of dit grondpad, bergfiets- of beginners-fietsryroetes is waarop besoekers dalk wil gaan, alles is in die nuwe gids ingesluit.

Ses roetes word uitgelig met handige feite, beskrywings en ’n kaart wat op die brosjure verskyn. ’n Digitale weergawe is ook op Bergrivier-toerisme se webblad beskikbaar.

Volgens Justin-Lee Februarie, wat ’n gedeelte van die roete tussen Goedverwacht en Aurora aangepak het, is dié fietsroete gewis iets vir die oog. Hy meen die verskeidenheid van roetes en die mooi gebied sal enige fietsryer tevrede stel. Saam met Februarie was nog lede van die Sports Trust se plaaslike fietsryers – Tarquin Smit en Jean-Lethin Faro. Die drie is deel van die Sports Trust se fietsry-program wat streef om die sport in voorheen benadeelde gemeenskappe te vestig.

Ndlangisa meen dit is belangrik om programme, die gemeenskap en toerisme bymekaar te bring aangesien dit uiteindelik tot werkskepping kan lei.

“Ons het ’n fietsryer wat onlangs as amptelike toerisme-gids gekwalifiseer het. Benewens dat hy as toergids kan werk, het hy ook die spesialiskennis om spesifiek ’n gids vir fietsryers te wees,” vertel sy.

Toerisme vir die komende jaar sluit die gewilde Proudly Porterville-fees, die terugkeer van die Winter-karnaval en ’n fietsry-fees in.. Vir meer inligting oor Bergrivier-toerisme en hul lede, besoek die organisasie se webblad.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article