Die 49-jarige reeksbedrieër en vermeende kinderverkragter wat in Mei in Vredenburg in hegtenis geneem en na Bloemfontein geneem is, bly agter tralies tot sy volgende verskyning in die landdroshof in Augustus.

Landdros Estelle de Lange het nie borgtog aan die beskuldigde toegestaan nie en hy is nog nie gevra om skuldig of onskuldig te pleit nie. Die verdagte se identiteit is aan Weslander bekend, maar word, soos wetlik vereis in seksuele sake, weerhou totdat hy in die hof gepleit het.

Die beskuldigde was ’n bekende in drinkplekke en sportkroeë in die Weskus waar hy die afgelope agt jaar gewoon en gewerk het.

Hy is juis by sy laaste werkplek as kroegbestuurder op Donderdag 4 Mei vanjaar in hegtenis geneem nadat die polisie snuf in die neus gekry het dat hy daar wegkruip.

Dié werkgewer vermoed ook dat die beskuldigde in die tyd wat hy daar gewerk het selfs so veel as R150 000 verduister het, maar die werkgewer het tot op hede nog nie ’n formele klag by die polisie gaan lê nie.

In Bloemfontein staan die beskuldigde tereg op drie aanklagte van verkragting, seksuele aanranding en ontbloting wat in 2014 teen hom aanhangig gemaak is.

Dit spruit uit voorvalle in November en Desember 2014 waartydens ’n 16-jarige seun seksueel aangerand is.

Die beskuldigde het in 2014 versuim om op te daag vir sy hofverskyning in verband met die sake en verdwyn, vermoedelik reguit Weskus toe.

Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, is die beskuldigde die dag nadat hy op Vredenburg vasgetrek is na die Parkweg-polisiekantoor in Bloemfontein geneem.

Sy het ook gesê die beskuldigde se vorige veroordelings sluit in korrektiewe toesig vir ’n bedrogsaak in die Paarl (1994); tronkstraf vir diefstal en bedrog in die Paarl (1995); tronkstraf vir ’n seksuele misdryf in Franschhoek (1996); skuldigbevinding aan diefstal in Bellville (2001); skuldigbevinding aan diefstal van ’n motorvoertuig in Linden, Johannesburg (2001); en ’n opgeskorte vonnis vir diefstal in Uitenhage (2010).

Die beskuldigde verskyn weer in die hof op 21 Augustus. Annette Loots, aanklaer, behartig die staat se saak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article