Rowers wat hulle glo as polisiebeamptes voorgedoen het, het ’n man by sy huis in Blouwaterbaai, Saldanha, beroof.
Volgens AO Yolanda Kotze, ’n woordvoerder van die Saldanha-polisie, het die voorval verlede Woensdag 21 September om 07:30 in Pelikaanstraat, Blouwaterbaai, plaasgevind.
Volgens die slagoffer se verklaring aan die polisie het hy verlede Woensdag die elektriese skuifhek voor sy huis met die afstandbeheerder oopgemaak om te vertrek. Hy het sy Nissan-bakkie in trurat gesit en agteruit begin ry.
In die bakkie se truspieëltjie het hy glo gesien hoe ’n motor, blykbaar ’n Chevrolet Optra, agter hom kom stilhou. Hy was glo vasgeparkeer en kon nie uit die erf kom nie.
Kotze sê die slagoffer het vertel dat twee mans, geklee in polisie-uniforms, toe uit die Chevrolet geklim het. Hulle het na bewering nader gestap, hulle voorgedoen as polisiebeamptes en vrae aan die slagoffer begin stel. Daar was glo nog twee mans wat in die motor bly sit het.
Toe het een van die mans in uniform ’n vuurwapen uitgeruk en die slagoffer daarmee gedreig.
Intussen het die slagoffer se vrou wat by die motorhuis gestaan het, glo die huis in gevlug.
’n Stoeiery het tussen die mans ontstaan en die slagoffer het genadiglik ’n kans gekry om te ontsnap. Hy het in die rigting van die strand weggehardloop.
Volgens Kotze het die rowers toe die hek se afstandbeheerder en die bakkie se sleutels geneem en in die Chevrolet weggery.
Enigeen met inligting wat die ondersoek kan bespoedig, word vriendelik versoek om die ondersoekbeampte sers. Siyabonga Barra by 022 714 8300 te skakel.
. In ’n tweede roof wat ook op 21 September in Saldanha plaasgevind het, is Sasko se afleweringswa in Galjoenstraat, Diazville, geteiken. Om 11:20 is ’n personeellid beroof terwyl hy besig was om brood in die straat af te lewer.
’n Rower het die afleweringswa genader en die personeellid met ’n vuurwapen gedreig. Die rower het glo geld geëis en die personeellid het hom die R300 kontant gegee wat hy by hom gehad het.
Ook hier het die polisie inligting van die publiek nodig om op die spoor van die skuldige te kom. Bel die ondersoekbeampte sers. Khangelani Kabisoyo by 022 714 8300 indien jy met ’n wenk kan help.


