Badisa, ‘n organisasie sonder winsbejag, en sy bestuurspan het verlede week hul jaarlikse streeksvergadering in Citrusdal aangebied, wat Badisa-programme van Piketberg en Darling ingesluit het.
Die vergadering was deel van Badisa se “Road Show”, waar lede van die be- stuur saam met die hoof, Basie van Wyk, verskeie Badisa-programme reg oor die Wes-Kaap besoek.
Op hierdie toer, vergesel deur die organisasie se nuut aangestelde direkteur van kommunikasie, bemarking en geldwerwing, Adrie Jurgensen, is verskeie programme besoek vir die versterking van bestaande verhoudinge en om te leer en in te skakel met die mense wat Badisa se missie uitvoer.
“Ons gaan waar die werk gebeur – binne die dorpe, die sentrums en huise. Ons wil luister en almal daaraan herinner hulle is deel van ‘n groter prentjie. Dit is Span Badisa; dit is ons Badisa. Ons is een span,” sê Jurgensen.
As deel van die organisasie se vernuwing is die nuwe digitale platform, MyBadisa, bekendgestel, wat in 2026 van stapel gestuur sal word. Die platform sal voortaan die administriewe sy van sake vergemaklik, insluitend aansoeke en plasing van aansoekers. Die program sal ook die regulatoriese vereistes waaraan voldoen moet word, bevorder en personeel meer tyd gun om by die plaaslike gemeenskappe betrokke te wees.
“MyBadisa sal die administratiewe las van spanne af wegneem, sodat hulle kan fokus op wat belangrik is – die diens van gemeenskappe en die voorkoming en afweer van krisisse wat kan opduik.”
Die toekomsgefokusde span het ook die tema vir 2026 bekendgemaak – “Colour Your World With . . .” wat die eenheid en groei van alle programme deur same- werking en storievertelling vier.
“Ons vorm die toekoms van versorging. Ons fokus is voorkoming en vennootskappe. As ons beter kan wees as gister, gaan ons briljant wees,” sê Jurgensen.




