Hoewel die afgeleë Aurora se kortstondige dog ontwrigtende waterkrisis opgelos is, meen sommige inwoners dit was ‘n duur les wat voorkom kon word as die Bergrivier-munisipaliteit net na vroeëre waarskuwings geluister het.
Aurora se waterkrane het aan die einde van verlede maand sonder waarskuwing opgedroog toe twee boorgatpompe, wat water aan die dorp verskaf, kort ná mekaar onklaar geraak het.
Volgens André Nortje, die waarnemende voorsitter van die Aurora inwonersvereniging (ARA), het die waterkrisis die dorp en sy sowat 650 inwoners erg ontwrig.
“Die waterkrisis het twee weke ge- duur. In dié tydperk was inwoners aangewese op onder meer water wat feitlik dag en nag met voertuie uit Piketberg en Velddrif aangery is.”
Volgens Nortje is Aurora die vergete dorp van die Bergrivier-munisipaliteit.
“Ons kan nie bekostig om langer die vergete dorp te wees nie. Die dorp ervaar gebrekkige instandhouding van infra- struktuur en dit is nou tyd dat Bergri- vier meer betrokke raak. Ons sit ons saak op die tafel, maar hulle ignoreer ons.”
Die inwonersvereniging is veral omgekrap omdat die plaaslike regering, volgens hulle, nie geluister het na vroeëre waarskuwings oor die betrokke boorgate se instandhouding nie.
Aurora het in 2023 ook ‘n waterkrisis ervaar en volgens Nortje het bevindings deur ‘n meganiese ingenieur tóé reeds getoon dat Aurora se twee boorgate – op ‘n plaas vlak buite die dorp – in die toekoms probleme gaan gee weens die watergehalte wat uitgepomp word.
“Die ysterinhoud was baie hoog en roes was ‘n probleem in die dorp. Huis- houdelike items soos geisers en ketels het nie lank gehou nie. Die boorgatpype het eenvoudig opgeroes, waarna die pompe in die gat geval het.
“Bergrivier gee nie terugvoering nie en ignoreer ons. Dit het hulle nou baie geld gekos omdat hulle nie geluister het nie. Hulle het nagelaat om die nodige instandhouding aan infrastruktuur te doen. Die dorp se watersuiweringsaanleg is tans nie eens omhein nie. Almal het toegang tot ons water.”
Volgens Matthew Sheldon, die Berg- rivier-munisipaliteit se kommunikasiehoof, is die dorp se waterkrisis opgelos nadat twee nuwe boorgate gesink is en beide nou heeltemal in werking is.
“Die totale wateraanvraag in Aurora kan nou in die langtermyn bevredig word,” sê Sheldon in ‘n mediaverklaring aan Weslander.
Volgens die munisipaliteit het die vorige boorgate ingeval en kon dit nie meer gebruik word nie. “Die situasie kan as ‘n plaaslike waterkrisis beskou word, maar die munisipaliteit het vinnig ingetree met noodbeplanning, tegniese ingryping en noue samewerking met die gemeenskap,” sê Sheldon.
Die munisipaliteit ontken dat hy vroeëre waarskuwings van inwoners ignoreer het. “Die vorige boorgate was bestaande infrastruktuur. Die ineenstor-
ting was ‘n voorval wat nie voorsien kon word nie.”
Die munisipaliteit ontken ook inwo- ners se beskuldiging dat Aurora die
Bergrivier-munisipaliteit se vergete dorp is. “Nee, dit is nie waar nie. Ons streef daarna om alle dorpe en gemeenskappe in die Bergrivier- munisipale gebied gelyk te behandel.”
Die munisipaliteit het intussen bevestig dat beide boorgate steeds optimaal water voorsien en dat die dorp se huidige waterbeperkings nou opgehef is nadat reservoirs gestabiliseer het.





