Die deel van die restaurant wat nog bruikbaar is.


Die een brandblusser was binne sekondes, so het dit vir Ian Turner, eienaar van die Muisbosskerm, gevoel, leeg, waarop hy terug plaas toe gejaag het om nog blussers te kry. Hy het ook waterpype gebring om die vlamme met water te kan spuit.

“Al wat ek kon doen, was om die res van wat oor was te probeer red.”

Turner was verlig dat die wind op daardie tydstip doodstil was. Die Noordwestewind het gelukkig eers teen 04:00 opgesteek, toe die brand reeds geblus was.

“Ons grootste vrees is bewaarheid: dat iemand die Muisbosskerm doelbewus aan die brand sal steek.”

’n Vrees wat vererger het toe ’n soortgelyke buitelug-restaurant in Langebaan, Die Strandloper, in 2020 gedeeltelik afgebrand het nadat vermoedelik rondlopers ’n brand laat ontstaan het. Die Soverby-lapa op die strand by Dwarskersbos is in Augustus 2012 ook deur ’n brand in puin gelê. Volgens Turner is die drankstoor juis ’n soliede betonstruktuur met ’n dek as dak om toegang tot die drank te verhoed.

Hy vertel dat die brandweer al hul dae gehad het om die bosskerm wat aanhou smeul het heeltemal te blus. “Omdat die skerm al 37 jaar in gebruik is, was die muisbosse gekompakteer.”

Turner vermoed dat ’n dwelmverslaafde wat dié nag in Lambertsbaai in hegtenis geneem is moontlik met die brand by die restaurant verbind kan word. Die man het vermoedelik dié nag ook ’n brand by ’n ander restaurant en een by ’n supermark gestig. Volgens Turner is dié brande geblus voordat dit veel skade kon berokken.

Kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het bevestig dat daar Donderdagaand tussen 19:00-23:00 ’n brand by U-Save in DF Malanstraat uitgebreek het, waarin ’n deur beskadig is.

Turner meen dat die gebied gedurende wintermaande onder misdaad soos inbrake en diefstal deurloop omdat die toerismebedryf dan stil is, en dit bydra tot werkloosheid en dwelmmisbruik.

“Muisbosskerm is die oorspronklike buitelug-restaurant in die land.”

Soortgelyke plekke soos Die Strandloper en Die Pan in Yzerfontein het later geopen, maar volgens hom het die aanvanklike idee vir ’n boma-seekosrestaurant op die strand by Muisbosskerm ontstaan.

Om die restaurant ’n outentieke karakter te gee is die boma juis uit inheemse materiale gebou. “Muisbos is ’n bos wat nie deur diere gevreet word nie, daarom bou Sandveldse veeboere en trekboere ’n lapa of kookskerm daarmee. In Boesmanland gebruik hulle asbos en in Namakwaland kraalbos.”

Dit is binnekort blommeseisoen, dus wil die Turners so gou as moontlik met opruimingswerk begin en skadunette opsit waar die muisbosheining was. Die een helfte van die restaurant, wat insluit die braaipunte, rookoonde en die onderste sit-areas op die strand by die bootjie, kan nog benut word.

“Ons wil nie ons klante teleurstel deur ’n maand of twee gesluit te bly nie. Ons mik om oor so twee tot drie weke weer oop te maak.”

Turner benadruk dat hy maar van iets negatiefs iets positiefs moet maak. “Ek beskou dit as ’n kans op vernuwing en verbetering. Ons kan nie oorhaastig wees nie, want dit is die eenvoud van die plek wat mense trek. Ons kan maklik ’n vaste struktuur opsit, maar dit gaan die ambience heeltemal wegvat.”

Die restaurant voorsien permanente werk aan 20 plaaslike mense. Volgens Turner is mense se harte oop vir die Muisbosskerm omdat hulle goeie herinneringe aan die plek het. “Ons kry geweldige ondersteuning en hulp van oor die wêreld heen. Baie dankie aan almal.” Hy bedank ook die polisie en brandweer. Daar word op sosiale media geld vir die Muisbosskerm ingesamel, maar dit is nie die Turners se inisiatief nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article