Twee atlete van die Salkor-atletiekklub het aan die Suid-Afrikaanse meestersatletiek se baan- en veldkampioenskapsbyeenkoms in Potchefstroom gaan deelneem.
Die byeenkoms is tussen 2 en 4 Mei in die McArthurs-atletiekstadion aangebied.
Leandre Milfordt en Rencia Swartz was die twee atlete wat die Salkor-span verteenwoordig het, en met gemengde welslae presteer.
Milfordt was die groentjie in die span en het bewys sy kan met die groot kanonne skouers skuur. Sy het ’n bronsmedalje in gewigstoot verower met ’n afstand van 3,76 m. Sy behaal ook ’n vyfde plek in beide die 1 500m en die 100 m.
Swartz eindig onderskeidelik sesde en agste in die diskus en gewigstoot.
Milfordt gaan van 13 tot 25 Augustus aan die Wêreldmeestersatle-tiekkampioenskap in Gothenburg, Swede, deelneem waar sy haar land, die Salkor-klub en die Weskus gaan verteenwoordig.
Milfordt is ’n lid van SA meestersatletiek (Sama). Sama ontvang geen subsidie van die regering of enige sportfederasie nie, en dus is elke atleet verantwoordelik vir sy of haar eie onkostes, wat byna R85 000 beloop (vliegkaartjies, visum, verblyf, registrasiefooie, daaglikse toelae vir etes, vervoer van en na die stadion en die Sama-sportdrag en -toerusting (kit). Om uit te vind hoe jy ’n donasie kan maak, stuur e-pos na Lydia Stander, Sama-sekretaris, by lydia.stander@angloamerican.com.





