’n Geleentheid van ’n leeftyd het oor die pad van die jong Vredenburgse inwoner Anthea Jagers gekom.
Dié 21-jarige sangeres het pas ’n ses maande sangkontrak met ’n Spaanse sangmaatskappy losgeslaan en vertrek binnekort na Spanje om haar musiekloopbaan na die volgende stap te neem.
Voor dié geluk was Anthea se lewe baie deurmekaar. “Ek het baie verkeerde besluite gemaak en was ’n baie deurmekaar kind. Ek het nooit na my ma geluister nie en wou nooit vertel word wat om te doen nie,” vertel Anthea.
Anthea sê het sy baie van haar tyd saam met haar vriende deurgebring en verkeerde besluite geneem. Selfs haar ma, Katrina Jagers, sê Anthea het op ’n tyd haar lewe “weggegooi” met wêreldse dinge, maar sy is trots oor die omkeerpunt wat sy bereik het. Sy beskou dit as ’n inspirasie vir baie jongmense – veral vir jongmense in Vredenburg.
Anthea vertel alles het begin toe die jeugleier Noel Hauzamer haar genader en keer op keer gevra het of sy nie by die kerk wil kom sing nie. “Hy het nooit opgegee nie. Toe ek uiteindelik my voete in die kerk sit, het ek gehuil, want daar het die Here my weer eens ontmoet.”
Volgens Anthea het Noel en sy vrou haar gehelp met haar lewensreis tot waar sy vandag is. “Ek sien baie uit na die ervaring wat in Spanje op my wag aangesien ek nog nooit buite Suid Afrika gereis het nie.”
Sy glo hierdie geleentheid is ’n stap nader aan haar groot droom om ’n wêreld- bekende sanger te word.
Vir Anthea is musiek ’n vriendskap. “Wanneer ek ’n lied aansit, dan praat dit met my. Dit bemoedig my.”
Een van haar grootste rolmodelle is die sanger Pearl Adams, juis omdat sy ook van Vredenburg is, ’n kind van die Here is en haar drome volg. Anthea deel ook ’n groot liefde vir gospelmusiek.
Katrina is baie trots op Anthea omdat sy die besluit geneem het om te verander en ’n naam vir haarself te maak. “Sy is besig om groot stappe in haar musiekloopbaan te neem. Wie kon dink dat sy uit Suid-Afrika sal gaan? Ek glo Suid-Afrika sal eendag met trots sê sy het die land en haar dorp Vredenburg verteenwoordig,” voeg Katrina by.
Anthea vlieg Maandag 1 April Spanje toe. Hoewel haar vliegtuigkaartjie en verblyf gedek word, moet sy steeds sekere etes en ander uitgawes dek en enigiemand wat haar hiermee wil help, kan haar ma by 079 188 4232 kontak.





