ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) het vandeesmaand sy beste verdienste in 15 jaar aangekondig.
Amsa het sy hoogste jaarlikse verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en amortisasie (ebitda) – R8 569 miljoen – en wesensverdienste (R6 860 miljoen) sedert 2008 aangeteken. Bedryfswins het aansienlik toegeneem van ’n verlies van R963 miljoen in 2020 tot ’n wins van R7 976 miljoen het Amsa luidens ’n verklaring gesê.
Die wesensverdienste van R6 860 miljoen het sterk herstel van ’n verlies van R2 033 miljoen, wat neerkom op ’n wins van 615 sent per aandeel teenoor ’n verlies van 185 sent vir 2020.
“ ’n Voortgesette sterk prysomgewing, hoër verkoopsvolumes, die voortgesette strategiese herposisionering van die maatskappy sowel as die voordeel van robuuste prys-koste-effekte het alles bygedra tot ’n buitengewoon winsgewende jaar vir ArcelorMittal Suid-Afrika,” het Kobus Verster, uitvoerende hoof gesê.
Deel van die staalreus se strategie was om in Maart 2020 sy Saldanha-aanleg te sluit. Amsa het destyds gesê hoë elektrisiteitskoste en swak internasionale staalpryse het bygedra tot Saldanha Staal se sluiting.
Die jaarlikse resultate kan op Amsa se webblad gevind word.


