ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) is vol planne en glo sy vooruitsigte om sy eie elektrisiteit op te wek, sal vrugte afwerp.
Amsa het Donderdag (28 Julie) sy halfjaarresultate bekend gemaak. Volgens dié uitslae is die staalreus se wesensverdienste op met 22% (R3 591 miljoen) tydens die eerste helfte van die jaar.
Volgens Amsa was dit nie altyd maanskyn en rose nie en was daar ook struikelblokke. “Die spoor-, arbeids- en elektrisiteitsprobleme verteenwoordig verlore geleenthede, wat hartseer is vir ’n land wat elke voordeel van elke ekonomiese geleentheid moet gebruik om te herbou ná die vernietigende pandemie,” meen Kobus Verster, uitvoerende hoof.
Die maatskappy het juis ’n nuwe geleentheid saam met Transnet-treindienste van stapel gestuur. Indien alles na Amsa se plan sal verloop, sien hy kans om lokomotiewe en treinwaens vir gebruik aan te koop om sodoende ystererts na Vanderbijlpark te vervoer.
Intussen is Amsa ook besig met sy groenkragprojekte. Die plan behels die oprig van twee 100 MW projekte in die vorm van ’n sonkragaanleg in Vanderbijlpark en ’n windplaas by die plaaslike Amsa-aanleg. Saldanha Staal is vroeg in 2020 gesluit.
Hoë elektrisiteitspryse was onder die faktore wat juis die Weskus-aanleg se deure laat sluit het.
Benewens kragopwekking kan die plaaslike aanleg ook moontlik sy deure weer open indien Amsa slaag om die Saldanha-fabriek aan te pas om omgewingsvriendeliker staal te produseer.
Die “groener” proses behels om groen waterstof te benut om regstreeks gereduseerde yster (DRI) hier te vervaardig. Dit sal na verwagting na Europa uitgevoer word.
DRI is ’n tussenstadium waartydens suurstof uit die ystererts-korrels gehaal word. Die proses word deur waterstof en koolstofmonoksied gebruik voor die ystererts verder by staalmeulens tot die staalprodukte verwerk word.


