ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) het Woensdag planne bekend gestel om twee 100 MW- hernubare- energieprojekte aan te pak.
Dié twee projekte word beplan vir Gauteng asook die Wes-Kaap.
Die lewensvatbaarheidstudies vir groenkragprojekte sal na verwagting teen 2023-’24 voltooi wees. Volgens die staalreuse sal die projekte op bestaande aanlegte van die maatskappy gebou word, wat Amsa se Saldanha-aanleg insluit.
Volgens Amsa is sy doel nie net om sy omgewingsimpak te verminder nie, maar ook om meer onafhanklik van die nasionale elektrisiteitsnetwerk te wees.
’n Hoë kragrekening was juis een van die redes wat Amsa in 2020 aangevoer het vir die sluiting van die Weskus-aanleg. Honderde plaaslike inwoners het hul werk verloor.
Op sy jaarlikse voorlegging van die Saldanhabaai- munisipale konsepbegroting het die burgemeester, André Truter, aangevoer dat die plaaslike ekonomie steeds herstel van die sluiting van Saldanha se aanleg.
David Maynier, LUR vir finansies in die Wes-Kaap, het verlede week sy steun vir die moontlike opwekkingsprojekte getoon. “Die aankondiging is goeie nuus vir die ekonomie, goeie nuus vir werkskepping, veral in Saldanhabaai, en goeie nuus vir die hupstoot na verbeterde energieveerkragtigheid in die Wes-Kaap,” meen Maynier.
Die minister voer aan Amsa se planne komplimenteer die provinsiale regering se planne om meer privaat belegging in elektrisiteit-onafhanklikheidsprojekte te kry. “Saam beweeg ons geleidelik om die impak van beurtkrag te versag, en na ’n skoner, groener, meer energie-veerkragtige toekoms in die provinsie,” meen Maynier.
Kobus Verster, Amsa se uitvoerende hoof, het luidens ’n verklaring gesê die maatskappy se pad na hernubare energie is goed op dreef. Die hoop is om die kragopwekkingsaanlegte teen 2025 aan die gang te hê.
“Dit is ’n belangrike stap in ons ontkolingsreis en maak gebruik van die veranderings aan wetgewing wat verlede jaar deur die Suid-Afrikaanse regering aangekondig is, wat private beleggers in staat stel om hul eie kragsentrales met tot 100 megawatt se opwekkingsvermoë te bou sonder om ’n lisensie te vereis,” sê Verster.

