Met die warm weer wat nou voorkom, gewaar Weskussers al hoe meer slange in die streek.
Volgens Etienne Swanepoel, ‘n ervare slangvanger in die Weskus, het die slangseisoen effens vroeg begin.
Swanepoel meen aan die begin van die seisoen is slange meer aktief juis omdat hulle ná die winterdae begin prooi soek om weer gewig op te tel.
Swanepoel, wat meestal in die gebiede van Dwarskersbos en Velddrif werk, het die afgelope twee maande omtrent tussen 40 of 50 slange tot dusver in die seisoen gevang.

Inwoners in die White City- tydelike hervestigingsgebied het al vroeg in September hul kommer uitgespreek oor plae soos muise en slange wat gelok kan word weens die lang bosse rondom die gebied, wat deur die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) versorg moet word.
‘n Inwoner van die gebied meen dit wat hulle gevrees het, het die afgelope naweek ‘n werklikheid geword toe ‘n kobra in die gebied gewaar is en sy pad na ‘n woning binne omtrent drie tot vier minute gemaak het, waarna ‘n slang-
vanger gebel is om dit te kom verwyder.
Die SBM het in September aan Weslander gesê met betrekking tot die instandhouding van openbare ruimtes, insluitend die sny van gras en verwydering van bosse, sal die betrokke afdeling die gebied inspekteer en skoonmaak-
aksies uitvoer om die risiko van peste en slange te verminder.
“Die instandhoudingsprogram vir oop ruimtes het eers einde Augustus weer begin. Die betrokke gebied is op die
munisipaliteit se program vir September en Oktober.”
Volgens inwoners is egter nie veel werk hiervan gemaak nie.
Tereza Burger, ‘n woordvoerder vir die SBM, het op nog ‘n navraag geantwoord die munisipaliteit is besig om gras en bosse in die omgewing te sny en te verwyder. “Rommel (van verskeie aard) word ook tans bymekaargeskraap en die hope sal verwyder word.”
Wanneer dit kom by slange lok, meen Swanepoel slange is nes mense en oorleef deur drie elemente – skuiling, kos en water. “Moenie vir hulle ‘n habitat skep waar hulle al drie het nie. Hulle sal wel deur jou erf beweeg, maar nie bly nie.”
Swanepoel raai mense aan om ‘n afstand van slange af weg te bly – minstens vyf treë – nooit sig van die slang te verloor nie en dadelik ‘n slangvanger te kontak.
Bel Swanepoel by 082 066 3911.






You must be logged in to post a comment.