’n Groep inwoners van St. Helenabaai het ’n aksieplan vir hul dorp daargestel.

St. Helenabaai se Wyk 11-aksiegroep sê hulle is gereed om te werk. Die aksiegroep dek die hele dorpsgebied van St. Helenabaai tot Dyker-eiland. Volgens Christopher Simpson, voor-s­itter van die groep, streef die groep om die eerste hekkie vir die gemeen­skap te wees. “Die gemeenskap be­staan hoofsaaklik uit volwassenes en daarom is veiligheid vir ons die nom­mereen-prioriteit. Ons het gebiede waar straatligte vir maande nie werk nie en die donkerte is ’n veilig­heids­probleem,” sê hy.

Met die hulp van die plaaslike polisie en veiligheids­maatskappye patrolleer die aksiegroep die dorp van 19 km.

“Dit is belangrik vir ons om ’n veilige, gerieflike omgewing vir die inwoners hier te skep.” Die aksiegroep het ook meer holis­tiese planne om misdaad aan te pak. ’n Inisiatief waaraan die aksiegroep werk, is om ’n toepassing (App) waar werksoekers hul ambagte kan registreer, beskikbaar te stel. Inwoners wat die hulp van ’n verwer, loodgieter of argitek soek, sal dan op dié spesifieke toepassing van St. Helenabaai vir iemand kan soek wat hulle kan help. “Werkloosheid in die gemeenskap staan op 50%. Die plaas­like visfabrieke is die grootste werk­gewers in die gemeenskap en indien ons die werkloosheid kan help verminder, sal dit weer tot ’n afname in misdaad lei,” meen Marc Verpoort, ’n bestuurslid. Hy is tans besig om die toepassing af te rond en sê dit sal eersdaags beskikbaar wees. “Dit gaan daaroor om mense met basiese vaar­dighede toe te rus en netwerke te vorm. Die doel is uiteindelik om die gemeenskap op te bou. Hoekom moet ons elke keer vir vaardighede buite die dorp soek wanneer hier soveel mense is met wonderlike vaardighede en wat wil werk?” vra hy. Ferdi van Zyl, wat ook op die bestuur dien, sê gesien die visbronne nie altyd so volhoubaar sal wees nie, is dit tyd vir die gemeenskap om nuwe geleenthede te skep. Deel van die aksiegroep is ook om die St. Helenabaai-hawe ’n trekpleister vir die dorp te maak met stal­letjies, bootritte en toeriste­bestemmings. Die aksiegroep is dus vol planne vir hul dorp, maar Simpson meen dit kan net gebeur indien die Saldanhabaai-munisi­paliteit, sakelui en die gemeenskap deel daarvan wil wees. “Vir ons is hierdie ’n hartsaak. Ons het ’n passie vir die gemeenskap waarin ons woon en die dorp groei net meer. In dié stadium kry ons nie baie ondersteu­ning van die munisipaliteit nie hoewel ons in gereelde kontak met ons raadslid is. St. Helenabaai voel soos die vergete dorp wat deur die munisipa­liteit agtergelaat word. Ons is passievol om die probleme en die struikelblokke in die gemeenskap te oorbrug vir die voordeel van al die inwoners,” verduidelik hy. Besoek https://sainthelenabay.co.za vir meer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article