Verskeie bewarings-, dierewelsyn- en vrywilligerorganisasies het kragte saamgesnoer om ’n projek genaamd “Strik Vry” van stapel te stuur wat daarop gemik is om bewustheid oor strikke in die Wes-Kaap te skep.
Dié onwettige praktyk om diere te jag is ’n wydverspreide probleem in die Wes-Kaap wat gebruik word om klein bokke en ystervarke te vang, maar eis ook ’n groot tol op die hele ekosisteem, omdat dit roofdiere soos rooikatte en luiperds kan affekteer.
Voorlopige navorsing dui daarop dat wildsvleis die hoofmotivering is om strikke in die Wes-Kaap te stel, hoewel die onwettige handel in sekere gedeeltes van dié diere ook ’n belangrike faktor is.
Die metode is uiters verkwistend aangesien vasgestelde strikke dikwels nie nagegaan word nie, wat daartoe lei dat die diere vrek en vrot. Gevangde diere kan ook soms ontsnap, wat hulle beseer en dikwels vermink laat.
Toenemende voorvalle van diere wat lewend in strikke gevind is, het die Cape Leopard Trust (CLT) genoop om dié praktyk te bestuur deur ’n netwerk van sleutelvennootorganisasies te verseker.
Saam met CapeNature, Kogelberg Biosphere, Wildlife Forensic Academy en die Cape of Good Hope SPCA het die Cape Leopard Trust die Wes-Kaapse strik-reaksieplan ontwikkel – die eerste omvattende plan ooit vir dié streek.
Op 1 Augustus is hierdie reaksieplan amptelik bekend gestel as ’n fundamentele komponent van die oorkoepelende “Strik Vry”-projek. Die bekendstelling is in die Old Mutual-konferensiesentrum by Kirstenbosch Botaniese Tuine gehou en is bygewoon deur die provinsiale regering en distriksmunisipaliteite, belanghebbendes van verskeie omgewingsorganisasies, natuurreservate en bewarea, asook projekondersteuners.
Volgens Katy Williams, direkteur van navorsing en bewaring van die Cape Leopard Trust, bestaan die “Strik Vry”- inisiatief ??uit verskeie komponente, insluitend ’n reaksieplan met ’n rapporteringsblitslyn en ’n toegewyde ondersteuningsvoertuig, asook ’n reeks hulpbronne om met grondeienaars en belanghebbendes te deel om bewustheid en opvoeding te verhoog.
Daarbenewens het die inisiatief ten doel om opleiding en data-insameling te verbeter, tesame met ’n sosiaal-wetenskaplike navorsingsprojek wat met gemeenskappe werk om die dryfvere en potensiële oplossings vir strikke beter te verstaan.
Die Strik Vry-projek word ondersteun deur die internasionale fonds vir dierewelsyn en die Rolf-Stephan Nussbaum-stigting. Die bekendstellingsgeleentheid is vriendelik ondersteun deur ORMS Print Room & Framing, Dish Food & Social, Kitchen Gypsies, Mountain Falls Mineral Water, Bos Ice Tea, Leopard’s Leap Wines, Regina Mundi Global Advisors, Down to the Wire en SANBI.
Neem aksie
As jy ’n lewende wilde dier ontdek wat in ’n strik in die Wes-Kaap gevang is, bel die Strik Vry-blitslyn by 076 127 8485.
Hou verder jou afstand van die dier, en beperk geraas tot die minimum.
Hou die GPS-ligging van die strik, ’n beskrywing van die dierespesie asook jou kontaknommer byderhand.
As jy leë strikke of ’n dooie dier ontdek wat in ’n strik vasgevang is, neem asseblief ’n foto en rapporteer dit by die Cape Leopard Trust se aanlyn dataportaal (app.capeleopard.org.za). Verwyder die strik dan versigtig en gooi dit weg en verseker dat dit nie weer gebruik kan word nie.
Vir verdere inligting kan snarefree.co.za besoek word of e-pos kan na info@snarefree.co.za gestuur word. Die blitslynnommer is 076 127 8485.





