Inskrywings is reeds oop vir die 2025-Agri Wes-Kaap / Santam- Jongboer van die Jaar-kompetisie.
Agri Wes-Kaap nooi gevolglik die provinsie se jongboere om vir die 2025-kompetisie in te skryf.
Hierdie kompetisie, wat die uitnemendheid en vindingrykheid van jongboere bekroon, bied ‘n uitstekende platform om erkenning te kry vir bestuursvernuf en tegniese vaardigheid, sowel as leersame blootstelling in die landbousektor.
Die kompetisie is oop vir boere tot 40-jarige ouderdom en wat op die inskrywingsdatum reeds vir minstens een jaar ‘n opbetaalde lid van hul plaaslike landbouvereniging was.
Deelnemers kan onafhanklik boer, in vennootskap wees of as plaasbestuurder optree, mits hulle spesifieke bestuursverantwoordelikhede hanteer wat beoordeel kan word.
Die beoordelingsproses fokus op kerngebiede soos:
• Bestuursfilosofie en -vaardighede;
• Finansiële bestuur en rekordhouding;
• Tegniese bevoegdheid in
boerderypraktyk;
• Bemarkingsfilosofie en -praktyke; en
• Gemeenskapsbetrokkenheid en aktiewe deelname aan georganiseerde landbou.
Die provinsiale wenner sal outomaties as finalis in die nasionale kompetisie kwalifiseer, waar hulle teen ander SA jongboere om die gesogte Toyota SA / Agri SA Jongboer van die Jaar-titel sal meeding.
Die wenner ontvang nie net erkenning vir sy of haar uitsonderlike prestasie nie, maar ook waardevolle pryse en blootstelling in die bedryf.
Die sluitingsdatum is 25 April.



