Afriforum Weskus-tak het hul teenboelieveldtog by skole in die Weskus bekend gemaak.Foto:


AfriForum se Weskus-tak en teenboelieveldtogspan het verlede Maandag (17 April) skole in Langebaan en Hopefield besoek. Die veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

Ses skole is besoek, wat Curro Langebaan, Langebaan Primêre Skool, Longacres Privaatskool, Weskus Skool in Saldanha, die Laerskool Vredenburg en die Hoërskool Hopefield insluit.

Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder van jeugleierskap, en Tania Scheepers, projekassistent van AfriForum-jeugleierskap, het leerders van die gevare van boeliegedrag vertel en hulle met die nodige kennis en vaardighede toegerus om as ’n leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind – om boeliebestand te wees.

Volgens Sidney Monk, voorsitter van die Weskus-tak. is dié inligtingsessies baie insiggewend “veral omdat jong mense maklik en onwetend by verkeerde dinge betrokke kan raak”.

“Leerders is aangemoedig om vroegtydig hulp te soek en iemand wat hulle vertrou, daarvan te vertel,” sê sy.

Die laerskole het die praatjie saam met die gelukbringer, Matteus, geniet en was opgewonde om die wapenrusting van God aan te trek, terwyl hoërskoolleerders na #DieValFilm gekyk het, wat op hedendaagse uitdagings fokus. Die gevare van kuberafknouery en tegnologie wat tegelykertyd ’n mens se beste vriend en vyand kan wees, is ook bespreek.

“Ons is baie bly om die teenboelie-praatjies by skole in die Weskus te kon aanbied en het baie goeie terugvoer ontvang,” het Monk bygevoeg.

Die tak moedig mense in die gemeenskap aan om by soortgelyke projekte betrokke te raak en sodoende ’n daadwerklike verskil te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article