Geregtigheid het in die hof geskied nadat ’n man van Vredenburg verlede jaar sy vriendin wreedaardig aangerand en haar ernstig beseer het.
Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Vredenburg-polisie, is ’n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer op 8 September 2021 by die Vredenburg-polisiekantoor aangemeld nadat ’n jong vrou (19) ernstig in ’n aanval beseer is.
Sy het oop wonde aan haar lyf gehad nadat sy met ’n panga en ’n baksteen aangerand is. Sy is ook geskop.
Haar vriend, Heinrich Visser (25), is in verband met die misdaad in hegtenis geneem en sers. Renaldo Joubert van die Vredenburg-speurtak het die saak ondersoek. Die klag is na afloop van die ondersoek in die hof na poging tot moord verander.
Visser is op 30 Mei in die Vredenburg-landdroshof tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan drie jaar opgeskort is vir vyf jaar.
Visser is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.


