Die afgelope Saterdag (30 November) was ’n aand van lofsang en aanbidding aan die Here by Hoedjiesbaai-hotel.
Die Hoedjiesbaai-hotel het sy heel eerste Gospel-aand met ’n onbeskryflike atmosfeer gehou.
Van sang tot inspirerende verhale wat gedeel is, meen Dolfie de Bruin, bestuurder van die hotel, dat dit ’n roerende aand was wat baie mense geraak het. “Dit was ’n sukses en die Here se teenwoordigheid was daar. Mense het gedans, kerk gehou, gejubel en daar was baie emosionele oomblikke en getuienisse,” vertel De Bruin. Gassprekers het die akteur Melanie du Bois ingesluit, asook die sanger Jesmé en plaaslike sprekers soos Esmarelda Mckay, Claire Coetzee, die profetes Gunaida Samuels en apostel Yolanda Slinger.
“Die saal was vol en die gaste het dit só geniet dat die aand van 19:00 tot uiteindelik 00:00 gerek het.
“Dit het nie gegaan oor geld maak nie, maar die samesyn. Ek het self uit my eie sak 50 kaartjies geborg vir mense in die gemeenskap om die aand by te woon en die jaar af te sluit met die eer van die Here en sterk vroue wat gebedvegters is.
“Jesmé het my met sang geseën en Samuels en Slinger het oor my gebid en die instansie geseën.”
De Bruin voel dit was ’n aand vir die boeke en glo ander het ook weggestap met seëninge.





