Met die eerste van ‘n rits langnaweke en skoolvakansiedae in April in sig, maak talle families gereed om die langpad vir die komende Paasnaweek aan te pak. Dis ‘n tyd om weer te besin, en vir dié wat hierdie spesiale en beketenisvolle tydperk op die Christelike kalender – die kruisiging en opstanding van Jesus – vier, ‘n tyd om weer in dankbaarheid te staan vir dit wat Hy in elkeen van ons se lewe bewerkstellig. Dit is ook ‘n geleentheid vir families wat mekaar nie gereeld sien nie om weer tyd saam deur te bring en net weer ‘n bietjie stil te raak en asem te skep.
Langnaweke bring egter dikwels hoë verkeersvolumes op die paaie, en ten spyte van plaaslike munisipaliteite wat reeds vroeg met bewusmakingsveldtogte begin en ook padblokkades hou, berig Weslander jaarliks oor ernstige en selfs noodlottige ongelukke in hierdie tyd omdat mense dikwels nie gehoor aan padreëls gee nie.
Pak die pad met die nodige geduld aan, maak voorsiening in jou reisbeplanning vir moontlike vertragings op die paaie weens die hoër verkeersvolume, laat gaan jou motor se bande en ander veiligheids aspekte van jou motor na voordat jy die langpad aandurf, beplan jou roete as jy meer as een keer brandstof moet ingooi, hou by die spoedbeperking, moenie voertuie verby- steek as jy nie duidelik kan sien die pad vir aankomende verkeer is skoon nie, hou ‘n veilige afstand van die motor voor jou en skakel jou motor se ligte aan, veral in nat en mistige weerstoestande.
Weslander wens elkeen wat die Paasnaweek en die komende langnaweke op Weskuspaaie sal ry en alle Weskussers wat dalk ander streke sal besoek ‘n voor- spoedige reis toe. Geseënde Paasfees!


